Stinkstorie met ‘n gelukkige einde
"Dit is so ’n positiewe storie. Die vloei van riool in die spruit kon potensieel tot ’n baie ernstiger probleem gelei het."
’n Stinkstorie in die ooste van die Pretoria het ’n gelukkige einde gehad.
Inwoners van Lynnrodene is hoogs ingenome met die reaksie van die metro op hul kommer oor ’n riool-lekkasie.
DA-raadslid Pieter van Heerden sê die metro se department van water en sanitasie en omgewingsbestuurraad het gou gespring.
LEES OOK: Metro doen halwe werk, versuim om riool te verwyde
Hy sê talle inwoners van sy wyk was bekommerd oor die welstand van die Moreleta-spruit.
Op 17 Januarie het inwoners van Rodeneweg in Lynnrodene hom ingelig dat rou riool uit ’n mangat die spruit binnevloei.
By nadere ondersoek het hy vasgestel dat die Hazendal-kompleks in Rodeneweg reg langs ’n gedeelte van die spruit geleë is.
“Die volgende dag het nog inwoners van die Lynnrodene-area dieselfde probleem gehad,” sê Van der Merwe.
“Riool het vanuit ’n mangat in Sanlamstraat geloop.”
Nog ’n inwoner het Van der Merwe ingelig dat dieselfde mangat se riool die omgewing sedert die vorige naweek teister.
Die stank was so erg dat mense hul vensters moes toehou.
LEES OOK: Riool uiteindelik opgeruim
Ongelukkig was hierdie nie die enigste rioolprobleem nie.
“Die vorige week was daar ’n mangat wat oorgeloop het in die middel van Daventryweg, reg langsaan die Glenfair-inkopiesentrum.”
Van der Merwe het self die probleem aangemeld.
Hy het die inwoners se kommer met ’n omgewingsbestuur-inspekteur gedeel wat vertel het dat amptenare bewus is van die probleem.
“Die raad het binne twee dae op my boodskap reageer en gaan ondersoek instel.”
Van der Merwe sê dat die span van die omgewingsraad die herstelwerk gedoen het en ook watertoetse gedoen het om te bepaal of enige van die rioolbakterieë die spruit binnegedring het.
“Hulle het my deurlopend op hoogte gehou,” sê hy.
LEES OOK: Riool loop oor vir ‘n week
Volgens Van der Merwe besef min mense die belangrikheid van die Moreleta-spruit.
“Die spruit se water loop tot in die Roodeplaatdam vanwaar dit uiteindelik in Mosambiek beland,” sê hy.
“Soveel gemeenskappe leef van die water wat uit ons spruit kom. Daarom is dit so belangrik dat inwoners dadelik soortgelyke probleme aanmeld.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
