Watermeterdiefstal is steeds aan die toeneem in die Moot, het polisie hierdie week gesê.
Villieria-polisiewoordvoerder kaptein, Coba Brits, sê 44 sake van watermeterdiefstal is die afgelope maand by hulle kantoor aangemeld.
Kilnerpark Sekuriteit woorvoerder Ancelize van der Kooi sê meer as 34 watermeters is van die eerste tot die 14e van hierdie maand in die Moot-gebied gesteel.
Brits vra dat alle inwoners hul meter se reeksnommer neerskryf, sodat hulle dit aan die polisie kan verskaf as dit gesteel is.
Sy sê ook inwoners moet spesifiseer watter tipe watermeter dit was.
LEES OOK: Diefstal van watermeters styg
“Verskeie optredes is al gehou en inwoners word gewaarsku dat hulle alle verdagte persone by hul naaste polisie moet aanmeld.”
Van der Kooi sê inwoners moet bewus wees van dié knaende probleem.
Sy sê Waverley en Môregloed is verlede maand geteiken.
“Hierdie maand is East Lynne, Queenswood en Kilnerpark skynbaar in die visier.”
Van der Kooi noem dat hierdie misdade gewoonlik tussen 03:00 en 05:00 gepleeg word en dat die misdadigers die koperdrade in die meter steel.
LEES OOK: Diefstal neem toe in die Moot
“Die polisie kan net soveel doen en inwoners word aangemoedig om enige diefstal onmiddellik aan te meld sodat hul meter vervang kan word.”
Sy stel voor dat inwoners aansoek doen vir ’n plastiekmeter om sulke misdade in die toekoms te voorkom.
Inwoners kan die Villieria-polisie by 012-403-8607 of Kilnerpark Sekuriteit by 012-333-2031 skakel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

