MunicipalNews

Moot en wes straatlig-projek amper klaar

Al die ligte brand al in Es'kia Mphahleleweg vanaf die R80-oprit tot by Morganlaan.

Toestemming van die departement van omgewingsake is al wat nog nodig is vir straatligte om aangeskakel te word in die weste en Moot van Pretoria.

Wyk 54 se gemeenskapskakelbeampte Riette Rossouw sê die kontrakteur is besig met die laaste opruiming voor die inspeksie van die departement.

“Die departement het gevra ons moet kyk dat ons soveel as moontlik klippe en klein klippies verwyder om te keer dat dit nie opskiet as daar gras gesny word nie,” sê sy.

“Al die ligte brand al in Es’kia Mphahleleweg vanaf die R80-oprit tot by Morganlaan. Dit lyk beeldskoon.”

’n Bietjie minder as 12 weke gelede het Rekord berig dat straatligpale se koperdrade in Es’kia Mphahleleweg al vir meer as ’n jaar gesteel word.

LEES OOK: Moot GPF waardeer vroue

Na vele klagtes van inwoners weens kapings en breek-en-gryp misdade het twee raadslede met ’n oplossing na vore gekom.

DA-raadslede Elma Nel en Elmarie Linde het besluit dat daar 74 splinternuwe straatligpale in die straat opgerig sal word.

Om koperdiewe te keer, word hierdie nuwe straatligpale uit sement uit gemaak.

“Ons verkies juis dat hierdie pale uit sement gemaak moet word sodat misdadigers nie die pale kan sny vir die koperdrade nie,” sê Linde.

Sy sê die pale sal 2m onder die grond ingeplant word met ’n sementblok om die paal bo die grond.

“Ons wil ons bes probeer om misdadigers te keer om die koperdrade te steel,” sê Linde.

Nel sê sy is verheug oor die nuwe straatligte.

LEES OOK: Hercules GPF streef na veiliger gemeenskap

“Ek is verheug dat hierdie kontrak goedgekeur is vir die vervanging van ons straatligpale,” sê Nel.

“Ons het verskriklik baie probleme gehad met gryp-en-hardloop misdade asook ander misdadige elemente wat in die donkerte beweeg het.”

Linde sê die 15 werkers wat die metro aangestel het vir die projek is meestal vroue.

“Ons probeer soveel as moontlik diversiteit by ons projekte implementeer,” sê sy.

Rossouw sê: “Ek was verbaas hoeveel vroue hulleself vir hierdie projek beskikbaar gestel het.”

“Ek is baie opgewonde om weer lig in hierdie straat te sien. Dit is ’n baie besige straat en is belangrik dat dit veilig is.”

Rekord het voorheen berig dat die oprig van die straatligpale deur kontrakteur, Lorraine Letsholo van Are Ananeng-konstruksie behartig word.

LEES OOK: GPF in die weste beïndruk

’n Inwoner in die weste van Pretoria, Johan Cloete sê hy is verheug oor die straatligprojek.

Cloete is ook deel van die Hercules GPF.

“Dit was vir ’n geruime tyd baie onveilig in dié straat gewees en beligting in die gebied is baie belangrik, veral omdat dit naby die rivier is,” sê hy.

“Hierdie projek is die beste wat met die omgewing kon gebeur het.”

Riette Rossouw, Lorraine Letsholo, Elma Nel en Elmarie Linde. Foto: Kayla van Petegem

 

Een van die werkers saam met Riette Rossouw en Elma Nel. Foto: Verskaf

 

Riette Rossouw saam met die werkers. Foto: Verskaf

 

Die straatligpale word uit sement uit gemaak. Foto: Kayla van Petegem

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button