MunicipalNews

OPVOLG: Ondersoek ingestel by wes-spruit

“Dit gaan ’n tydtjie neem omdat die metro eers gaan moet vasstel waar die reuk presies vandaan kom.”

Stappe deur die metro word geneem om die vuil spruit in die weste van Pretoria te ondersoek.

Rekord het voorheen berig dat hierdie spruit in Booysens nie net ’n oogseer vir inwoners is nie, maar dat die verskriklike reuk, afkomstig van die stormwaterstroom, wat oor die omgewing hang, steeds pla.

Inwoners kla dat die reuk in die aand en vroeë oggendure bykans ondraaglik is.

DA-raadslid, Frik van Wyk, sê hy het die probleem ernstig gedryf by die munisipale uitvoerende hoof.

“Dit gaan ’n tydjie neem omdat die metro eers gaan moet vasstel waar die reuk presies vandaan kom,” sê hy.

“As hulle dit opgespoor het, gaan hulle die verantwoordelike persone moet aanspreek.”

Van Wyk sê as die water in die spruit onskadelik is, gaan daar pype ingerig moet word om die reuke weg te hou.

“As dit die water is wat so stink, is dit definitief nie goed vir dit om in ons spruite in te loop nie en dan gaan daar ernstig iets gedoen moet word,” sê hy.

LEES OOK: OPVOLG: Stink spruit steeds ‘n kopseer in die weste

Van Wyk sê hy en inwoners het ’n Whatsapp-groep gestig om mekaar op hoogte te hou soos wat daar vordering is.

“Ek glo ons sal ’n oplossing vind,” sê hy.

Die spruit, wat afkomstig is van die Apiesrivier, vloei agter die inwoners se huise tot by die Bon Accorddam.

Rekord het voorheen berig dat inwoner Amanda van Biljoen beweer dat inwoners al selfs van die spruit siek geword het.

“Dit stink só dat ons ons deure in die aand moet toemaak. Somtyds is dit so erg dat ons nie eers kan eet nie,” sê sy.

Biljoen sê sy verstaan nie hoe die probleem so lank kon aanhou nie.

“Die water vloei reguit in die Bon Accorddam in wat later omskep word in drinkwater,” sê sy.

Biljoen is die eienaar van die Kleintreetjies-kleuterskool in Beaconstraat.

LEES OOK: Stink spruit slaan asems weg in die weste

“Ek het al soveel kinders verloor as gevolg van die spruit. Ouers wil nie hê hul kinders moet rondom die slegte reuk wees nie,” sê sy.

“As gevolg daarvan verloor ek ’n groot deel van my inkomste.”

Biljoen sê meeste inwoners in die gebied kla ook oor die spruit.

“Ek dink die slegte reuk word deur stilstaande water veroorsaak,” sê inwoner, Elsie Conradie.

“Die stilstaande water gee ook aanleiding tot muskiete en goggas.”

’n Ander Pretoria-Wes-inwoner wat ook help om misdaad te bekamp, Eric Cordier, sê: “Skelms gebruik die spruit om weg te hardloop. Hulle weet mense gaan hulle nie volg nie omdat hulle siektes kan optel.”

Die spruit, wat afkomstig is van die Apiesrivier, vloei agter die inwoners se huise tot by die Bon Accorddam. Foto: Kayla van Petegem

 

Amanda van Biljoen by die spruit. Foto: Kayla van Petegem

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button