Ondanks nuwe inligting wat na vore gekom het oor die wrede moord op hul dogter, wag ’n familie van die weste van Pretoria ná bykans drie jaar steeds op antwoorde.
Marlien du Plessis (20) se lyk is op 16 April 2015 in ’n veld in Danville gekry.
Die moord is steeds onopgelos en die familie is moedeloos.
“Kersdag was my kleinkinders in ’n toestand. Hulle het gesê hulle soek hul mamma en hul verlang vreeslik na haar,” sê Denise Erasmus, Du Plessis se ma.
“Hoe troos ek hulle en hoe gee ek hul berusting as ek dit myself nie eers kan kry nie? Dit, terwyl die moordenaars rond loop asof hulle niks gedoen het nie.”
Erasmus sê sy het op 15 Januarie weer met die speurder in beheer van die ondersoek na Marlien se moord gaan praat.
LEES OOK: NUUSFLITS: Vermiste Pta-man se lyk gevind
“Hy het vir my gesê ek moet skakel vir die verslae. Toe ek skakel, is daar vir my gesê dat ek dit nie mag aanvra nie,” sê sy.
“Blykbaar moet die persoon wat met die saak werk, dit aanvra en dan vir my ’n kopie gee, maar ek het nog niks gekry nie.”
Nuwe inligting het in November verlede jaar oor Du Plessis se moordsaak na vore gekom.
Dit volg nadat Erasmus ’n anonieme oproep gekry het.
Erasmus sê die vrou het besonderhede gegee oor wat presies twee jaar tevore met Du Plessis gebeur het.
Volgens die vrou het die vermeende moordenaars vir Du Plessis ’n oordosis dwelms ingegee, waarna hulle haar verkrag het.

“Hulle het haar blykbaar daarna in ’n lap toegedraai en met ’n klip geslaan,” sê Erasmus.
“Haar lyk is eers twee dae later op die plek waar sy gekry is, gelos.”
Die vrou wou nie meer sê nie, behalwe dat sy wel die inligting aan die polisie deurgegee het.
“Ek kan nie meer met die wete leef dat iemand daar buite weet wat met my kind gebeur het en die polisie ingelig het maar daar nog steeds niks daarvan gekom het nie,” sê Erasmus.
LEES OOK: OPVOLG: Verhoor vasgestel op Moot oud-konstabel moord
Die Pretoria-Wes-polisie het voorheen gesê die twee moordverdagtes wat vir haar moord in hegtenis geneem is, is sedert Augustus 2016 uit op borgtog.
“Daar is nog nie op ’n hofdatum besluit nie omdat die saak nog ondersoek word,” luidens die polisie.
Erasmus het aan Rekord vertel die familie is moedeloos.

“Ek skakel omtrent elke maand die polisie en elke keer as ons bel om te hoor wat aangaan, word ons afgejak en vertel dat hulle vir forensiese uitslae wag,” sê sy.
Du Plessis se liggaam is op haar jongste dogter se verjaarsdag gekry.
“Dit is vir ons ’n moeilike tyd om ons kleindogter (5) se verjaarsdag te vier terwyl ons weet dat sy nooit weer ’n gewone verjaarsdag sal hê nie.”
Du Plessis was ’n ma van twee dogtertjies en het in Booysens gewoon.
Erasmus sê haar lyk is agter ’n sandhoop gevind, toegedraai in ’n kombers met haar skoene netjies langs haar neergesit.
Die polisie kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
