
’n Ma van Pretoria-Noord het haar hartseer met Rekord gedeel na die dood van haar seun.
Richard Wood (26) is drie maande gelede in Ga-Rankuwa-hospitaal oorlede, nadat hy erge breinskade opgedoen het. Hy is glo deur sy vriende aangerand.
LEES OOK: Noord-swendelaar terug in hof
Sy ma, Maryna Wood, sê die verdagtes in haar seun se moord het verlede week vir die eerste keer in die hof verskyn.
“Dit was vir my ’n groot skok. Ek kon dit amper nie glo nie,” sê Maryna van haar reaksie nadat twee vriende van Richard in hegtenis geneem is.
Christopher van der Westhuizen en Marchant Bredell het Donderdag in die hof verskyn op aanklagte van moord.
Maryna sê haar erg-beseerde seun is op 5 November deur ’n veiligheidswag op ’n sypaadjie in Pretoria-Noord gevind.
“Hy het glo op die sypaadjie gesit met bloed wat by beide sy ore uitgeloop het,” vertel Maryna.
Richard is op 13 November dood ná meer as ’n week in ’n koma.
Maryna sê ’n paar dae voor haar seun se aanranding het hy by sy vriend, Christopher, se huis gaan bly.
“Ek en my man het ’n argument met Richard gehad oor verkeerde keuses en hy het toe besluit om tydelik by Christopher in te trek,” sê sy.
LEES OOK: OPVOLG: Geen antwoorde na noord-pa se moord
“Ons ken vir Christopher al vanaf kleintyd en is steeds goeie vriende met sy ma.”
Maryna sê sy het op 7 November ’n boodskap van Christopher ontvang om te vra of sy weet waar Richard is.
“Christopher werk saam met Richard en het vir my in die boodskap gesê dat hy (Richard) nie by die werk opgedaag het nie.
“Ek het vir hom gesê ek het nog niks van Richard gehoor nie. Ek het maar gedink Richard is nog kwaad oor ons argument.”
Maryna sê sy is op ’n Maandagaand na Christopher se huis om antwoorde te kry oor wanneer haar seun verdwyn het.
“Marchant, wat ek toe vir die eerste keer ontmoet het, was ook daar,” sê sy.
“Hulle het vir my gesê dat hulle die Sondagaand gaan snoeker speel het en dat dit die laaste keer is wat hulle Richard gesien het.”
Maryna sê sy het die jong mans gevra of hulle met Richard baklei het.
“Hulle het dit ontken en gesê hulle weet nie hoekom Richard sou wegloop nie.”
Maryna sê sy het Richard dadelik by die polisie as vermis aangemeld.
Sy sê vriende en familie het ook gehelp om inligting oor Richard se verdwyning op sosiale media te deel.
Maryna sê ’n jong man het haar geskakel na die inligting versprei is.
“Hy het gesê dat daar ’n beseerde man Sondagaand naby sy huis gekry is en per ambulans na Ga-Rankuwa-hospitaal vervoer is.”
Maryna sê alhoewel die jong man nie kon sien hoe die persoon in die ambulans lyk nie, was hy amper oortuig dat dit Richard kon wees.
Die soektog na Richard het uiteindelik by die hospitaal geëindig, waar hy in ’n koma gevind is.
Huilend vertel Maryna dat haar seun skaars ’n uur nadat sy hom die laaste keer gesien het, dood verklaar is.
’n Roudiens vir Richard het op 20 November plaasgevind.
Maryna sê beide Christopher en Marchant was by die begrafnis.
“Ons het vermoed dis dalk dwelmverslaafdes wat my seun so aangerand het. Niemand het verwag dat enigiemand na aan Richard betrokke sou wees nie.”
Christopher is verlede week borg van R5 000 toegestaan, terwyl Marchant in aanhouding bly.
Beide sal op 1 Februarie weer in die hof verskyn.
“Dis so onwerklik. Ek ken vir Christopher – hy was soos ’n seun in my huis. Marchant is ook die eienaar van twee plaaslike kleuterskole.”
Maryna sê sy hoop om spoedig in die hof antwoorde te kry oor wat voor sy dood met haar seun gebeur het.
Die noord-polisiewoordvoerder kon nie onmiddelik vir kommentaar bereik word nie.
LEES OOK: OPVOLG: Noord-moordverdagtes in hof, man verkoop kleinhoewe na vrou se dood
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
