Namibiese ster stel eerste Afrikaanse enkelsnit vry
“Veertig dae is simbolies oor wat in die Bybel staan van die tydperk wat nodig is om regtig ’n verandering in jou lewe te maak,” verduidelik sy.

Joharetha beskryf haar eerste solo-enkelsnit “40 Dae” as ’n eerlike moderne country-popverwerking, met ’n geestelike boodskap en dit pas perfek by haar unieke stem, wat spesiaal vir hierdie genre gemaak is.
Dit is die eerste vrystelling vanaf haar opkomende album, waarmee sy oor ’n paar maande nog meer musiekharte gaan verower as wat sy reeds het in die tien jaar wat sy al op die verhoog is.
“Dit gaan daaroor om nie tou op te gooi wanneer dinge binne ’n verhouding gekompliseerd raak nie en vir liefde te veg,” vertel sy.
LEES MEER: VIDEO: North musician’s notes of determination
Hierdie inspirerende treffer kom uit haar eie pen en die sangeres meen dat mense van alle ouderdomme hierby sal aanklank vind.
“Veertig dae is simbolies oor wat in die Bybel staan van die tydperk wat nodig is om regtig ’n verandering in jou lewe te maak,” verduidelik sy.
“Dit beteken vir my baie, want ek glo elke woord wat ek sing.
“Ek en my man is vanjaar ses jaar getroud en het al meer as sewe sakke sout saam opgeëet. Maar ons is lief vir mekaar en as dinge moeilik raak, sal ek ook die raad in my liedjie volg. Ek voel dat God die woorde vir hierdie enkelsnit vir my gegee het.”
LEES MEER: Tributes pour in for SA music legend Johnny Clegg
Die musiekvideo is reeds aanlyn uitgereik en vul die bestaande storielyn in die lirieke aan met die emosie wat die kunstenaar weergee wanneer sy dit self sing.
Gernot Fritze, Rainer Von Hatten en Zanele Mzinyati van Nautilus Studios was verantwoordelik vir die opname en vervaardiging van die snit en video.
“Nadia van den Heever het ons gehelp beplan en om die perfekte plek te kry. Die video is by Villa Maji in Swakopmund verfilm. Dis prentjiemooi daar en ek wou die emosie van die liedjie vasvang teen hierdie skoon oop agtergrond,” verklap die musikant.
Joharetha Nel, wat in Pretoria gebore is, woon tans in Namibië saam met haar man en vierjarige seuntjie. Haar liefde vir sing is op ’n jong ouderdom gebore en sy vermaak gehore reeds vanaf haar kleuterskooldae. Sy is ’n groot dromer en sonder haar debuut-album uit as een van die grootste hoogtepunte van haar loopbaan sover. Die brunet is al vir tien jaar amptelik doenig in die musiekbedryf, maar is nog haar hele lewe lank besig om aan haar musiekvernuf te timmer en spog daarom met ’n Graad 5-musiek- en Graad 3-musiekkwalifikasie van Unisa.
Omdat sy en haar man en mede-musikant, Len Nel, agt jaar terug hulle eie suksesvolle musiekfees – die Walvisbaai Oesterfees – begin het, het hulle al die voorreg gehad om die verhoog met verskeie groot kunstenaars te deel, soos Steve Hofmeyr, Jakkie Louw, Die Broers, Pieter Smith, Ray Dylan, Dozi, Charlize Berg, Jo Black en vele meer.
Hulle is ook bevoorreg genoeg om elke naweek besig te wees met optredes, funksies en feeste, soos die Outjo Wildsfees, regoor Namibië en voel geseënd dat aanhangers hulle so getrou ondersteun.
LEES MEER: Beyonce releases ‘The Lion King’ soundtrack featuring SA musicians
Wanneer sy nie op die verhoog is nie, bestuur sy ook haar eie besigheid, Joharetha Nel Makeup and Photography, en geniet sy dit om die mooi kant van die lewe uit te beeld. As sy nie kon musiek maak vir ’n lewe nie, sou sy graag ’n aktrise wou word omdat sy haarself vreeslik inleef in ander mense se stories en baie empatie het met haar medemens.
“Mense, flieks en persoonlike omstandighede insprireer my wanneer ek skryf en my gedagtes slaap nooit nie,” deel sy.
Joharetha glo dat jy hard moet werk vir wat jy wil hê in die lewe en dat jy nooit moet opgee op jou droom nie. Sy het nog baie planne vir die toekoms en hoop dat luisteraars hulself sal vind in die stories van haar musiek. “40 Dae” is maar net die begin van ’n lang, kleurvolle loopbaan wat op hierdie talentvolle kunstenaar wag.
Sosialemediaskakels
Facebook: joharethashows
Twitter: @joharetha
Instagram: @Joharetha
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
Rekord East
Rekord North
Rekord Centurion
Rekord Moot
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
