Fiela se Kind: Rekord praat met Pta aktrise Melissa Willering
Melissa Willering vertolk die rol van Nina as volwasse vrou in die nuwe fliekweergawe. Sy praat met groot bewondering oor haar ondervinding, en na 31 jaar sedert die eerste fliek se vrystelling, kan mens verstaan hoekom.

Aktrise Melissa Willering van Waverley in Pretoria het onlangs aan Rekord verduidelik hoe dit gevoel het om aan die nuwe fliek-weergawe van Dalene Matthee se geliefde Fiela se Kind te werk.
“Ek het grootgeword met al Dalene Matthee se stories,” sê Willering.
“Vandat ek in die hoërskool was, was sy een van my gunstelingskrywers. Vir jare droom ek al daarvan om in ’n Dalene Matthee storie te speel omdat haar verhale ’n mens altyd aanspreek. Die boek word steeds in die meeste skole voorgeskryf en ek dink dit sal nog vir baie jare so wees.
Volgens Willering, is die tema agter Fiela se Kind steeds relevant, sy voel dat daar steeds baie lesse in die verhaal weerspieël word waarby die nuwe generasie gaan aanklank vind.

“Ons kan steeds aanklank vind by al die kwessies soos ras, politiek, en onvoorwaardelike liefde tussen ’n ma en haar kind. Wat hierdie fliek so besonders maak is dit wys hoe liefde, ten spyte van ras al is wat saak maak, en die film beeld hierdie aspek ook so mooi uit. Dit wys dat almal eenders is en dat daardie liefde nie as gevolg van omstandighede verander nie. Hierdie fliek het ook ’n moderne aanslag, wat baie mooi verfilm is.”
Een van die grootste uitdagings vir Willering is om die skoene te vul van akteurs wat reeds die verhaal so mooi uitgebeeld het 31 jaar gelede. Sy verduidelik dat fliekgangers reeds ’n idee het van hoe die fliek lyk en dat as akteur, wil sy nie mense teleurstel nie.
“Dit is ’n uitdaging omdat daar ’n vorige film is en mense reeds ’n vooropgestelde idee het van hoe die storie veronderstel is om te wees. Almal ken die karakters en het ’n idee van hoe hulle vertolk gaan word. Ons wou juis nuwe lewe skep vir die karakters,” sê sy.Fiela se Kind is in die egte Knysna bos verfilm, en Willering sê dit was groot pret.
“Dit was die lekkerste om ’n ikoniese rol te vertolk in die regte Knysa bos. Op die ou einde wil ons graag hê die boodskap wat mense hier wegvat is om nie ander te oordeel op grond van ras nie. Fiela het vir Benjamin net so lief gehad soos vir haar biologiese kinders,” sluit sy af.
Fiela se Kind sal Vrydag, 13 September in teaters landswyd begin draai.
Sien die lokprent hier:
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
Rekord East
Rekord North
Rekord Centurion
Rekord Moot
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
