Lee Scott terug op die toneel met ”Vry’
Scott wil mense laat voel daar is hoop vir elkeen nadat hulle sy nuwe enkelsnit “Vry” gehoor het.

Lee Scott is ’n naam wat oor die afgelope 14 jaar diep in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers kom nesskop het.
Daarom is aanhangers in rep en roer oor die vrystelling van sy splinternuwe enkelsnit “Vry” wat net weereens bewys hoekom hy al vir soveel jare sy passie – met soveel sukses – in die kollig kan uitleef.
“Vry” is ’n inspirerende popsnit met ’n lekkerluister-ritme, wat saam met Hugo Ludik en Vaughan Gardiner van Muse Productions geskryf is, en daarop fokus om luisteraars te laat glimlag.
“‘Vry’ is geskryf met die idee dat elke mens uit die kompleksiteit van alledaagse realiteit kan ontsnap deur te dagdroom,” verduidelik die sanger.
“Daar is baie mense daar buite wat met angs en depressie leef. Omdat ek self sukkel met angs, wou ek ’n liedjie skep wat my herinner dat die lewe nie altyd perfek of kompleks hoef te wees nie. Dat ons moet vashou aan eenvoudiger tye en dat dit oukei is om oukei te wees. Tyd is kosbaar en daarom moet jy probeer om elke sekonde te laat tel,” sê Scott.
Volgens die kunstenaar, wil hy graag hê dat hierdie snit gehore moet laat goed voel wanneer hulle dit hoor en hulle moet laat wegstap met moed vir die toekoms.
LEES MEER: Beyonce releases ‘The Lion King’ soundtrack featuring SA musicians
“Daar is soveel druk daar buite om te presteer en jouself met ander te vergelyk, terwyl hierdie liedjie jou aanmoedig om eerder net jouself te wees. Omdat ek glo dat die publiek die boodskap agter die lirieke sal verstaan, dink ek dat dit ’n groot impak kan hê… maar net tyd sal leer.”

“Vry” gaan ook eersdaags met sy eie indrukwekkende video spog. Die besigheidsgebied 012 Central en die Krugersdorp-mynhope dien as agtergrond vir dié produksie deur regisseur en vervaardiger, Christian Wolf, en sy talentvolle span.
Die bekoring daarvan is gesetel in die doelbewuste eenvoud waarmee dit aangepak is, om die boodskap van die lied nog sterker oor te dra.
LEES MEER: Tributes pour in for SA music legend Johnny Clegg
“Die musiekvideo het nie noodwendig ’n storielyn nie en gaan eintlik net oor ek wat dans in ’n lewensgrote kubus wat uit LED-ligte saamgestel is. Die kubus verteenwoordig dit wat jou, as mens, terughou om net te leef of om ’n goeie tyd te hê. Ek was wel skepties oor die dansery. So ek het onmiddellik my goeie vriend, Harold van Buuren (hoof-beoordelaar van So You Think You Can Dance), gebel om my te help met die choreografie en ons het letterlik die volgende dag begin oefen.”

Buiten vir twee suksesvolle albums (Die Enigste Manier en Vir Ewig), talle radio-treffers as solo-kunstenaar en lid van Hi-5, SAMA- en Huisgenoot Tempo-benoemings vir Beste Pop-album en optredes by van die land se grootste feeste, is dié veelsydige ster ook ’n gesoute akteur (Drukkersbloed) en televisie-aanbieder (Sêr en Bravo op kykNET en drie seisoene van Kliphard op SABC 2).
Hy het ook al in verskeie teaterproduksies opgetree, soos Abba Magic SA, Reik na die Sterre – The Musical en was ook deel van Jennifer Rush se Suid-Afrikaanse toergeselskap in 2015.
Volgens die sanger, is hy met musiek in sy are gebore en is dit waar sy passie lê.
Hy het professioneel begin sing toe hy 18 was en het vir drie maande musiekteater studeer aan Technikon van Pretoria, maar moes opskop omdat ’n wonderlike geleentheid oor sy pad gekom het.
LEES MEER: Fans demand Afrikaans music show not to end
Sy eerlikheid en ongekompliseerde lewens-uitkyk, maak hom baie gewild onder sy mede-kunstenaars en het sedertdien vir hom baie deure oopgemaak.
Hy beskryf sy eie musiekstyl as kontemporêre pop, met ’n knippie R&B, en hy glo dat jy by elke kunstenaar na wie se musiek jy luister iets kan leer om jou eie werk te verbeter. Oomblikke en herinneringe inspireer hom om musiek te skryf en sekere liedjies te sing en hy sou baie graag nog eendag saam met groot name soos Adele, Ed Sheeran en Michael Bublé wil werk.

Wanneer hy nie op die verhoog of voor die kamera is nie, is dié Pretorianer ’n stem-afrigter wat dit geniet om sy kennis met opkomende sangers te deel en hulle aan te moedig om net hulle self te wees.
VRY bou voort op die sukses van die kenmerkende stylmusiek waarvoor Lee Scott bekendheid verwerf het. Die lied bevat die perfekte kombinasie van goedvoel-lirieke en ’n aanloklike deuntjie, wat sy stem nie net op sy beste laat vertoon nie, maar luisteraars ook uitnooi om die lewe te geniet.
Die enkelsnit is nou op alle digitale platforms beskikbaar en die musiekvideo sal volgende week vrygestel word.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
Rekord East
Rekord North
Rekord Centurion
Rekord Moot
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
