Voortrekker Boeremark skep hoop vir landbouers
Plaaslike boere kan weer moed skep deurdat hulle hul produkte by die Voortrekkermonument kan verkoop vir ’n inkomste.
Suid-Afrikaanse boere verkeer toenemend onder druk weens stygende brandstofpryse en hoë insetkoste, terwyl veesiektes sekerheid in die landbousektor ernstig bedreig.
Teen hierdie agtergrond bied die Voortrekkermonument en Saai hierdie Saterdag hul tweede Boeremark aan – ’n geleentheid waar die publiek nie net vars produkte kan koop nie, maar eerstehands kan beleef wat dit verg om kos op ons tafels te kry.
Bykans 200 uitstallers het reeds hul deelname bevestig. Dit sluit ’n wye verskeidenheid produkte in, soos vleis, groente, vrugte, verwerkte produkte, handgemaakte items, tuisgebak en kosstalletjies. Boonop is heerlike musiek, insluitend ’n koperblaasorkes en ’n ‘flash mob’ – wat FAK-liedjies en ander Afrikaanse volksliedjies gaan uitvoer – ook op die vermaakspyskaart. Vir die kleinspan is daar gesigverf, minigholf, rekspronge op trampoliens en skyfskiet met verfbalgewere.

Vir talle boere het die afgelope jare ’n stryd om oorlewing geword, met die prys van diesel een van die grootste uitdagings. Van plant- tot strooptyd is moderne landbou afhanklik van trekkers, stropers, vragmotors en besproeiingstelsels wat op brandstof en elektrisiteit staatmaak. Net so is melk-, hoender- en varkboere van betroubare en bekostigbare elektrisiteit afhanklik om winsgewend te bly.
Elke styging in brandstofkoste het ’n regstreekse impak op ’n boer se winsmarge en een van sekerlik die duurste stroopseisoene lê voor.
Daarby het die bek-en-klouseer-krisis groot kommer in die landbougemeenskap veroorsaak en selfs tot die ondergang van sommige boere gelei. Hierdie siekte plaas enorme druk op veeboere en raak nie net plaaslike handel nie, maar ook uitvoermarkte en die breër landbou-ekonomie. Wanneer ’n uitbreking plaasvind, raak dit nie net die boer nie – dit raak werkers, families, gemeenskappe en uiteindelik elke Suid-Afrikaner wat op voedselproduksie staatmaak.
Juis daarom speel boeremarkte ’n belangrike rol. Vir baie boere is dié markte nie bloot ’n gesellige uitstappie of afsetpunt nie – dit is broodnodige inkomste. Elke aankoop help om ’n plaasgesin aan die gang te hou en plaaslike voedselproduksie te ondersteun, terwyl lang verskaffingskettings en middelmanne uitgesny word.

Mense wil weet waar hul kos vandaan kom, hoe dit geproduseer word en wie die gesig agter die produk is. Daar is ’n groeiende bewustheid dat voedsel die resultaat is van harde werk, lang dae en groot persoonlike opoffering.
Boeremarkte bied iets wat geen winkel kan naboots nie: persoonlike kontak. Kinders sien vir die eerste keer hoe produkte lyk voordat dit verwerk en verpak word. Jongmense leer dat melk nie uit ’n boksie kom nie, en dat pap en brood hul oorsprong in ’n mielie- of koringland het.

Die Voortrekkermonument-Boeremark wil hierdie persoonlike verbintenis tussen mense en voedsel versterk, sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument. “Die monument is ’n herinnering aan deursettingsvermoë, selfstandigheid en die pioniersgees van Suid-Afrikaners. Dieselfde gees leef in ons boere – mense wat, ondanks moeilike omstandighede, aanhou plant, oes en produseer om kos op ons tafels te sit.”
Die publiek word aangemoedig om die Voortrekkermonument-Boeremark op Saterdag te ondersteun – nie net om gehalteprodukte te koop nie, maar om deel te word van ’n groter beweging wat plaaslike boere en gemeenskappe versterk. Elke rand wat hiér bestee word, help ’n boer en dra by tot die volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse landbou.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
