Hiep-hiep, hoera vir Ouma 101!
'n Inwoner van die El Cheree tehuis vir bejaardes het hierdie week haar 101e verjaarsdag gevier.
Daar was groot opgewondenheid by die Huis El Cheree tehuis vir bejaardes toe een van hul inwoners vroeër die week haar 101e verjaarsdag gevier het.
Tannie Lena van Wyk, oftewel ‘ouma 100’, soos hulle haar by die tehuis noem, het op Maandag dié groot mylpaal behaal.
Sy is met ’n spesiale 101-syfer koek bederf en was besoek deur familie en werkers van die tehuis op die spesiale dag.
Huis El Cheree bestaan uit vier huise waarvan een vir verswakte inwoners ingerig is.
Dit is hier waar Van Wyk al vanaf Januarie woon.
“Met die koppie is daar nog niks fout nie hoor, sy hou die susters lekker op hul tone,” skerts Engela Diedericks, eienares van Huis El Cheree.
Wanneer Van Wyk nie die susters grys hare gee nie, geniet sy dit om woordsoekspeletjies en Suduko te speel om haar tyd te verdryf.
LEES MEER: Colbyn-Oostelikes se Miss Mini toernooi vier vyftigste verjaardag
“Sy is altyd so dankbaar,” sê Diedericks.
Van Wyk spog met drie kinders, waarvan een reeds oorlede is.
Sy het ook agt kleinkinders en 11 agterkleinkinders.
“Ons het ’n baie baie spesiale verjaarsdag gevier, Ouma 100 is nou 101. Baie geluk met tannie se verjaardag. Mag ons Heer tannie seën in die jaar wat voorlê. Liefdetjies,” het Diedericks gesê.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
Rekord East
Rekord North
Rekord Centurion
Rekord Moot
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
