Local newsNews

Oos inwoners vier 60 jaar huweliksherdenking

Mense vra dikwels wat die geheim van só ’n lang huwelik is.

Twee inwoners van die ooste van Pretoria het onlangs hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Nicolaas Jacobus en Elise Rautenbach is op 19 Desember 1959 in die NG-kerk in Middelburg, Mpumalanga, getroud waar Elise se ouers gewoon het en waar sy skool gegaan het.

Hulle woon al vanaf 1988 in die ooste van Pretoria – eers in Faerie Glen en tans in Garsfontein.

Mense vra dikwels wat die geheim van só ’n lang huwelik is.

LEES MEER: Oord vier inwoner se 100e verjaarsdag

Vir Nico en Elise is dit eens dat dit is omdat hulle vir mekaar ruimte gee om hul talente te beoefen en uit te leef, dat hul mekaar onvoorwaardelik lief het, mekaar respekteer en bedagsaam is teenoor mekaar.

Verder glo hulle aan fiksheid van liggaam en gees – stap daagliks lang afstande en besoek die gymnasium gereeld.

Maar die héél belangrikste vir hulle, is dat hulle as diep gelowiges getuig dat die Hemelse Vader die hoof van hul huis is, die middelpunt van hul lewe en dat hulle volkome op God vertrou en alle eer aan Hom gee.

Nico het op Brakpan grootgeword en skool gegaan by Stoffberg Hoërskool waar hy ’n kranige langafstand-atleet was. In matriek was hy hoofseun en het onderskeidings in wiskunde en wetenskap behaal.

Elise en Nicolaas Rautenbach staan in tuin van La Vie Lente restaurant.

Hy het baie belang gestel in kernnavorsing en het sy studie in dié rigting begin by Tuks, maar reeds in sy eerste jaar het hy die roeping om predikant te word ontvang en sy studierigting verander na teologie.

Nico en Elise het hul vier studentejare in Stellenbosch beleef. Daar het hulle by die Afrikaanse HAT-woordeboek, wat toe in sy beginjare was, gewerk.

Hulle het ook op ’n werkkolonie vir dranksugtiges naby Kraaifontein in ’n personeelhuis gebly wat hulle baie goedkoop kon kry, met die verstandhouding dat Nico vir die inwoners dienste sal hou en ook begrafnisse sal waarneem.

Ds Nico het in 1998 ’n breinoperasie gehad en die dokters het gevrees vir ernstige nagevolge.

Daar was ’n moontlikheid dat hy verlam sou wees en ook sy stem kon verloor. Nico was verlam vir drie maande aan sy linkerkant, maar het volkome herstel.

Drie kinders is uit hul huwelik gebore en het uiteenlopende beroepe gevolg.

Corneel Rautenbach (hul oudste seun) is in Stellenbosch gebore en het predikant geword.

Emilise Rautenbach het onderwys studeer, maar ná haar pa se breinoperasie het sy belangstelling in die funksie van die brein ontwikkel en haar MA verwerf.

“Ek het my eie besigheid begin, genaamd Dare wat staan vir “Dynamic action to rebuild and enhance,” vertel sy.

Sy vertel verder hoe sy die land reis na skole en besighede waar sy hul opleiding gee oor hoe die brein gebruik kan word tot volle potensiaal.

Die jongste dogter, Amanda, het ’n sekretariële kursus gedoen, maar belangstelling ontwikkel in omgewingsbestuur en ook haar honneurs in bestuur verwerf.

Nico en Elise spog nou met vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Ds Nico het ’n groot belangstelling in bouwerk.

“Ek het meeste van die kerke, bedien, gebou, restoureer en aangebou,” sê hy.

Hy vertel verder hoe hy die Brookshuis wat deur die AP-kerk aangekoop is as administrasiesentrum restoureer het.

“Die doel van hierdie projek was sodat die oorspronklike voorkoms van onder andere die besondere houtwerk van satynhout, Oregon pine en Amerikaanse Oregon tot sy reg kan kom,” vertel hy.

Nico het ook ’n belangstelling in radiowerk. Hy was vir ’n tyd lank hoof van Afrikaanse programme terwyl Elise hoof van musiek by Radiokansel, wat destyds die internasionale trans-wêreld radio, was.

“Vir 26 jaar het ek self eredienste en ander godsdiensprogramme uitgesaai en die organisasie van godsdiensuitsendings van Pretoria FM behartig en ’n ere-toekening ontvang,” sê hy.

Nico en Elise was die stigters en leiers van die a capella koor wat veral in die sewentiger- en tagtigerjare groot bekendheid verwerf het in Suid Afrika, Israel en Europa.

“Ons was die eerste Suid-Afrikaanse koor wat deur Israel se Department van Toerisme genooi was om by die jaarlikse Bethlehemfees op ou Kersaand op te tree saam met kore van regoor die hele w’reld,” sê sy.

Met die 40-jaar reünie van die koor het hulle weer ’n aantal konserte gehou en opgetree in die Atterbury Teater, Brooklyn Teater en by die Aardklop Kunstefees waar CD’s van gemaak was.

Die egpaar het in 2018 ’n gewapende roof en geweldadige aanval oorleef.

Nico het veelvuldige beserings opgedoen en moes vir twee weke behandeling in die intensiewe eenheid van Pretoria-Oos Hospitaal ontvang.

Hy het egter herstel en is dankbaar dat hy hierdie spesiale geleentheid ná 60 jaar se getroude lewe met sy vrou Elise en hul kinders, kleinkinders en agterkleinkinders kon beleef.

Tans is hulle fisies nog gesond en aktief en steeds beskikbaar vir gemeentes wat van hul dienste gebruik wil maak.

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button