SA fiksheids-duo mik ná wêreldverhoog nóg hoër
Met die volgende fiksheidskompetisie-seisoen reeds op die horison, is twee Suid-Afrikanse atlete vasbeslote om voort te bou op hul internasionale ervaring en Suid-Afrika weer op die wêreldverhoog te verteenwoordig.
Pieter Smith van Pretoria-oos en Juan-Mari Herbst van Krugersdorp het ’n merkwaardige seisoen afgesluit nadat hulle Suid-Afrika by die HYROX-Wêreldkampioenskap in Swede verteenwoordig het.
Die span het as die vinnigste Suid-Afrikaanse gemengde span in die fiksheidskompetisie geëindig en is nou vasbeslote om volgende jaar nóg groter hoogtes te bereik.
Die duo was die eerste Suid-Afrikaanse span wat in die gemengde dubbelafdeling aan die wêreldkampioenskap deelgeneem het.
Hulle het die kampioenskap as 39ste in hul ouderdomsgroep wêreldwyd afgesluit, ’n prestasie wat die hoogtepunt vorm van ’n uitmuntende seisoen waarin hulle ook hul posisie as van Suid-Afrika se voorste fiksheidsatlete bevestig het.

Die wêreldkampioenskap was die beloning vir maande se voorbereiding, opofferings en deursettingsvermoë.
Volgens die span was dit ’n voorreg om Suid-Afrika teen die wêreld se beste atlete te verteenwoordig.
“Ons voel waarlik geseënd om eerstens Suid-Afrika op die wêreldverhoog te kon verteenwoordig. Om dan hierdie prestasie te behaal, maak dit nog meer spesiaal omdat dit bevestig dat al die harde werk, opofferings en voorbereiding die moeite werd was,” sê Smith.
Dit was die eerste keer dat Smith en Herbst saam op die internasionale verhoog meegeding het.
Smith sê die grootste uitdaging was om hul eie plan te vertrou te midde van die intense internasionale kompetisie.
“Ons moes [ons] emosies onder beheer hou en nie te vinnig wegspring nie. Omdat ons teen die wêreld se beste atlete meegeding het, het ons geweet die tempo gaan van die begin af baie hoog wees. Ons moes gedissiplineerd bly, ons eie wedloop hardloop en nie deur die atmosfeer meegesleur word nie.”
Vir Smith het een van die mees betekenisvolle oomblikke van die wêreldkampioenskap plaasgevind nog voordat die wedloop begin het.

“Toe ons in die tonnel gestaan het tussen die spanne met die vinnigste tye ter wêreld, het ons vir ’n oomblik stil geword en gebid. Op die ou einde het die Here ons die voorreg gegee om daar te wees, en om in daardie oomblik rustig te raak en Hom die eer te gee, was vir my een van die grootste hoogtepunte van die hele ervaring,” sê Smith.
As ’n span glo hulle dat goeie kommunikasie een van hul grootste sterkpunte is.
Smith sê daar is nie ’n vaste wedstrydplan wat onder alle omstandighede gevolg word nie. “Ons kommunikeer voortdurend met mekaar. Daar is nie noodwendig ’n vaste plan wat ons volg nie. Ons werk op gevoel, vertrou mekaar se oordeel en maak aanpassings soos die wedloop ontvou.”
Hy kombineer sy loopbaan as finansiële direkteur by ’n groot skakelagentkap met die eise van internasionale topsport.
Hy sê deeglike beplanning maak dit moontlik om beide verantwoordelikhede na te kom.
“Dit verg baie beplanning, dissipline en opofferings. Ek het ongeveer 60 minute per dag om te oefen, daarom probeer ek dit vroeg soggens of laat saans inpas. Wanneer ek oefen, maak ek seker dat ek gefokus is en nie tyd mors nie. My familie en werk bly altyd my eerste prioriteit, so ek beplan my oefeninge rondom hulle. As jy jou tyd reg bestuur en konsekwent bly, kan jy baie meer bereik as wat mense dink,” sê hy.
Hy glo die groeiende gewildheid van hierdie sport en soortgelyke fiksheidskompetisies is toe te skryf daaraan dat dit mense uitdaag om hul grense te verskuif, terwyl dit steeds toeganklik bly.
“Dit daag mense uit om uit hul gemaksone te beweeg en motiveer hulle om meer aktief te wees. Hardloop vorm ook ’n groot deel van beide kompetisies, wat dit toeganklik maak vir baie mense wat reeds daarvan hou om aktief te leef,” meen Smith.
Hy het ’n eenvoudige boodskap vir Suid-Afrikaners wat oorweeg om self aan soortgelyke kompetisies deel te neem. “Skryf in, begin oefen en moenie wag vir die perfekte tyd nie. Die grootste stap is om net te begin.”
Herbst sê hul voorbereiding vir die wêreldkampioenskap het aansienlik verskil van hul gewone oefenprogram. Die fokus was nie net op harde oefening nie, maar ook op herstel en slim bestuur van hul liggame.

“Herstel was ’n baie groter prioriteit as voorheen. Ek was byvoorbeeld feitlik daagliks by Fitberi Wellness om seker te maak my liggaam is gereed vir die volgende oefensessie. Ons het ook baie meer op data en slim oefenbestuur gefokus eerder as om elke dag ons liggame tot die uiterste te druk,” vertel Herbst.
Benewens hul sukses in die onlangse kompetisie is Smith en Herbst ook die houers van die Afrika-rekord in die Deadly Dozen vir gemengde spanne.
Volgens Herbst verg dit veel meer as net fisieke vermoë om op dié vlak te presteer. “Dit verg konsekwentheid. Jy moet bereid wees om elke dag die tyd en moeite in te sit om ’n beter atleet te word, selfs op dae wanneer jou kop nie noodwendig saamwerk of jy nie gemotiveerd voel nie.”
Sy sê haar agtergrond in hardloop het daartoe gelei dat dié vorm van fiksheid vir haar ’n natuurlike tuiste geword het.
“Ek kom van ’n hardloop-agtergrond af. Ek sukkel met sekere tegnieke in Crossfit. So hierdie vorm fiksheidsport pas my net soveel beter. Daar is ook baie meer geleenthede om internasionaal raak gesien te word.”
Hoewel die afgelope seisoen een van hul suksesvolstes nóg was, sê die span hulle fokus reeds op die volgende uitdaging.
“Ons doel is om volgende jaar beide individueel en as span weer vir die wêreldkampioenskappe te kwalifiseer. Ons wil ook graag saam aan nog CrossFit-kompetisies deelneem en onsself in verskillende uitdagings toets,” bevestig Smith.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel