Plaaslike yshokkiespeler droom om SA te verteenwoordig
Botha het in 2015 hiérdie sport sy eie gemaak nadat hy reeds op laerskoolvlak vir sy skool se hokkiespan uitgedraf het.
Hoërskool Eldoraigne se yshokkie-ster, Armand Botha, sal tot volgende jaar toe moet wag om sy land in die buiteland te verteenwoordig.
Hiérdie matriekleerling van Eldo’s was deel van die o.18 Suid-Afrikaanse span wat vroeër vanjaar na Europa na die wêreld yshokkie-kampioenskappe sou toer.
Die toernooi is egter weens die koronavirus afgestel.
Botha sou sy land vauit die voorste linie op regtervleuel in Luxembourg verteenwoordig het.
“Ek was plat geslaan oor die nuus. Dit sou die eerste keer gewees het waar ek saam met die nasionale span na die buiteland sou toer,” sê Botha.
Dié 18-jarige is geen nuwe gesig op die ys nie.
LEES OOK: Bom bars oor ‘privaatskool’ van die noord
Hy is reeds in 2017 vir die o.16- en o.18-provinsiale spanne gekies om Gauteng gedurende die interprovinsiale toernooi te verteenwoordig.
Vir die derde agtereenvolgende jaar, was Botha deel van die nasionale span waar hy vanjaar ook as reserwe vir die o.20’s ingesluit was.
Botha het in 2015 hiérdie sport sy eie gemaak nadat hy reeds op laerskoolvlak vir sy skool se hokkiespan uitgedraf het.
“Ek het aan die begin baie min van hierdie sport af geweet. Dit is ’n baie vinnige en ’n intense spel.”
Hy is ’n lid by Warriors by Forest Hill City in Centurion.
“Op hierdie stadium is ons in groot afwagting om weer te kan oefen en wedstryde te speel.”
In die professionele hokkieliga, speel hy vir die Mustangs.
Die aanvallende speler sê fiksheid, spoed, vaardighede met die stok en puk is van uiterste belang.
LEES OOK: Tiener van Centurion kompeteer met gesoute spelers op yshokkie baan
“Ek moes die spel leer ken en lees. Dit is ook belangrik om ’n spanspeler te wees.”
Voor die pandemie, was Botha drie keer per week op die ysbaan en sy dagboek oor naweke was propvol met wedstryde.
Ter voorbereiding vir die nasionale span, het Botha soms oor naweke – van Vrydag tot Sondag elke oggend en elke aand op en van die ys af geoefen.
Mits Botha nie op die ys is nie, neem hy deel aan sy skool se E-spele liga.
Hoërskool Eldoraigne Outcasts het onlangs met Paul Roos Gimnasium met 19-6 in die E-spele liga, wat in volle swang is, afgereken.
Daarna het hulle ook Hoërskool Linden met 16-3 afgeransel.
Die Outcasts het vanjaar by dié liga aangesluit.
“My droom is om volgende jaar vir die o.20’s gekies te word en om uiteindelik Suid-Afrika in die buiteland te verteenwoordig,” vertel Botha.
Botha se ma, Henriette, sê dat hulle as ouers ongelooflik trots is op hul seun se prestasies.
“Daar is net drie bane in Gauteng en ons spandeer baie kilometers op die pad en baie ure langs die baan, maar dit is alles die moeite werd as jy jou kind se gesig sien wanneer hy vir ”n nasionale span gekies word,” sê sy.
“Dit verg ongelooflike harde werk en deursettingsvermoë om by te hou met oefeninge. Armand gee altyd sy beste om sy doelwitte te bereik.”
Botha sluit volgende jaar as inligtingstegnologie-student by Belgium-kampus aan.
Só lyk Armand Botha se yshokkie-prestasies:
2020 – Deel van o.18-nasionale span asook reserwe vir die o.20-nasionale span
2019 – Gekies vir o.18- en o.20-provinsiale span; ook o.18 nasionale span
2018 – o.18 en o.20 provinsiale deelname in interprovinsiale toernooi
2017 – Provinsiale deelname vir o.16- en o-18 interprovinsiale kompetisie.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
