Dogter steeds onvoorwaardelik lief vir haar aanneem-grootouers
Jakobi, nou 26, se hartjie was elke keer in stukke as sy hoor hoe haar maatjies oor hul oumas en oupas praat - veral as sy weet die Ouma- en Oupa-dag se datum op die skoolkalender kom al hoe nader.
Onthou julle die agtjarige dogtertjie wat destyds in 2002 in Rekord na ’n oupa en ouma gevra het?
René Jakobi het een droom gehad – om grootouers van haar eie te hê.
Jakobi, nou 26, vertel haar hart was elke keer in stukke as sy hoor hoe haar maatjies oor hul oumas en oupas praat – veral as sy weet Ouma- en Oupa-dag se datum op die skoolkalender kom al hoe nader.
“Ek het elke keer met trane in my oë huis toe gegaan.
“Veral wanneer daar ’n Ouma- en Oupa-dag by die skool is en ek het nie my grootouers by my nie.”

René se regte ouma en oupas is voor haar geboorte reeds oorlede. Haar enigste oorlewende ouma was siek en kon nie aan haar aandag gee nie.
Destyds het haar ma, Gené, ’n grappie gemaak en gevra: “Wat wil jy hê moet ons doen? Vir ’n ouma en oupa in die koerant vra?”
“Natuurlik as graad 2-dogtertjie het ek gedink dit is ’n briljante idee,” sê sy.
Dis toe dat haar ouers ’n briefie “Ouma en oupa gesoek” aan Rekord skryf waarin hulle vir grootouers vir hul dogtertjie soek.
Frik en Susan Strydom het geantwoord en is vandag nog René se aanneem-grootouers.
Hulle bly in Emily Hobhouse Ouetehuis in Capital Park.
Die twee families het almal saam Saterdag makietie gehou.
Ouma Susan is 76 jaar oud en Frik sal in November sy 80e verjaarsdag vier.
“Ek is n baie laatlammetjie en die enigste kind,” vertel Jakobi.
LEES MEER: Unique rugby academy will develop player in more ways than one
“Ons kuier Saterdag saam met hulle is beslis ’n hoogtepunt in my lewe. Ons het lekker gesels, geëet, opgevang en net mekaar se teenwoordigheid geniet en waardeer.
“Ons het bietjie oor die ou dae van toe ons deel geraak het van mekaar se lewens gesels, soos die heerlike sonskyndae in die swembad. As ons saam met my oupa en ouma gaan kamp het, wou ek nêrens anders as saam met hulle in die karavaan geslaap het nie.
René sê haar liefde vir kamp het sy by haar aanneem oupa en ouma geleer.
“My ouma maak natuurlik dié lekkerste hamburgers en dit was natuurlik die lekkerste gevoel om die dag by die skool op te daag en vir al my maats van my ouma se burgers te vertel.”
Oupa Frik en ouma Susan het twee seuns en vier kleindogters, maar dié het egter ’n hele paar jaar gelede oorsee verhuis.
“Ek dink die grootste ding wat ek uit die hele ervaring geleer het, is dat daar steeds goeie mense in die wêreld is,” sê René.
“Hulle het my én my ouers dadelik aanvaar as deel van die familie.
“Ons het mekaar onvoorwaardelik lief,” sluit Jakobi af.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
