President wens bejaarde geluk met 100e verjaarsdag
Hoewel sy nie aan enige aktiweite in die oord kan deelneem as gevolg van 'n heupbesering nie, is haar brein egter nog kristalhelder.
’n Deftige ou dame, Tossie Gouws van Ons Tuis-aftreeoord in Riviera, het Sondag haar 100e verjaarsdag gevier en ’n spesiale boodskap van gelukwensing van President Cyril Ramaphosa ontvang.
Die persoonlike gelukwensing is in ’n houtraam wat nou in Gouws se kamermuur hang.
“Dit bied my groot vreugde om my hartlike groete aan jou oor te dra. Dit is met groot trots en bewondering dat ek jou namens die regering en die inwoners van Suid-Afrika ’n baie geseënde, vervullende en spesiale verjaardag wil toewens.

Ek hoop van harte dat jy ’n spesiale dag wat met groot geluk gevul is, sal hê,” lui sy boodskap.
Sy is sedert Mei 2014 ’n inwoner by Ons Tuis.
Hoewel sy nie aan enige aktiweite in die oord kan deelneem as gevolg van ’n heupbesering nie, is haar kop egter nog glashelder.
Die groot vraag is egter wat Gouws se geheim agter hierdie groot mylpaal is.
“Jy moet altyd opkyk na bo. Jy moet besig bly en nie ledig rondsit nie,” sê sy.
“Dit help ook nie om te kla nie, omdat dit net ’n aanwendsel is. Leef in vrede en liefde en moenie ’n klakous wees nie,” sê Gouws.
Gouws se naasbestaandes het vir haar ’n foto-collage wat goue herinnering oor die jare vasvang, as geskenk gegee.
Volgens Sonja Stander, vier die tehuis graag die mylpale van hul inwoners.
“Die gemeenskap is geweldig betrokke wanneer ons sulke groot mylpale haal en reik graag uit met hierdie tipe geleenthede.
“Tannie Tossie was oorweldig met die feestelike atmosfeer in die tehuis en dankbaar vir die groot ophef wat ons almal gemaak het.”
Die tehuis gaan binnekort weer makietie hou met nog twee groot vejaarsdae.
Eersdaags sal ’n tannie haar 101e vier en dan is daar ook twee inwoners wat ’n eeu se herinneringe vier.
“Tannie Tossie was ’n hardwerkende vrou gewees wat baie diep spore in die meubelbedryf gelaat het.”

Die tehuis het op haar verjaarsdag wit duiwe losgelaat as wens vir Gouws vir Suid-Afrika.
“Vrede en verdraagsaamheid.
“Dit was ook ter ere van haar mooi wense dat niemand moet honger gaan slaap nie,” vertel Stander.
Haar verjaarsdag is deur nege familielede, wat twee van haar dogters en twee van haar seuns insluit, bygewoon.
Haar oudste dogter is al 80 jaar oud.
Gouws is in Klerksdorp gebore waar sy ook grootgeword het.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
