Local newsNews

Die Van der Walt-tweeling steel die kollig

Die tweeling van Hoërskool Menlopark het in elk van hul vakke onderskeidings agter hul name geskryf.

Danèlle en Noèlle van der Walt is deel van Die Hoërskool Menlopark se topdrie akademiese boffins.

Die matriekklas van 2020 het Dinsdag hulle rapporte gaan afhaal.

Menlo het ’n 100%-slaagsyfer behaal.

Danèlle en Noèlle is ’n identifiese tweeling – albei het sproetjies op hul gesigte, hul hare is dieselfde gevleg en altwee het blou oë.

Danèlle en Noèlle van der Walt. Foto: Verskaf

Hulle verskil net twee minute toe hulle gebore is.

Voormalige leerders van Laerskool Lynnwood het in elk van hul vakke onderskeidings agter hul name geskryf.

Van Noèlle se sterkste vakke, was Fisiese Wetenskap met 99% asook Lewensoriëntering met 97%.

Haar gemiddeld op haar laaste rapport, is 95.3%. 

Danèlle het vir Wiskunde 97% en ’n 98% vir Fisiese Wetenskkap behaal.

Haar gemiddeld is 93.7%

Dit is nie ongewoon vir sibbe om in dieselfde beroep in te beweeg nie.

Danèlle en Noèlle van der Walt. Foto: Verskaf

Daarom wil hierdie twee albei medies gaan studeer.

“Ek het keuring vir medies en sal dit graag wil gaan studeer, maar my liefde vir Wetenskap en Wiskunde maak vir my die finale besluit nog moeilik,” sê Danièlle.

“My plan op hierdie stadium is om medies op Stellenbosch te gaan studeer.

“Ek kan nie wag om aan die nuwe hoofstuk van my lewe te begin skryf nie,” sê sy.

Noèlle sê dat sy nog wik en weeg tussen medies en wiskundige wetenskappe.

“Daar is maar baie faktore wat ’n rol speel en ek het ’n groot liefde vir Wiskunde.

“Ek het egter keuring om medies te gaan studeer,” vertel sy.

Sy weet dat sy die vrugte van harde werk en deursettingsvermoë pluk.

“Deur op my doelwitte te fokus, weet ek presies waarvoor ek werk en wat ek wil bereik,” sê sy.

“Ek weet dat God my toekoms reeds beplan het en dat Hy my sal lei op die pad wat ek moet gaan en my altyd in enige situasie sal bystaan.”

Noèlle vertel dat 2020 ’n uitdagende jaar vir elkeen se karakter was.

“Ons deursettingsvermoë was tot op die uiterste beproef.Ek het nuwe perspektief ontwikkel en my uitkyk op die lewe verander,” sê sy.

“Ek het opnuut diep waardering ontwikkel vir dinge wat ’n mens gewoonlik so vanselfsprekend aanvaar.

“Ons het soveel dinge misgeloop, maar ons het kosbare familietyd gehad wat ons gaan mis as ons uit die huis uit is.

Sy reken selfdissipline was die deurslaggewende faktor.

LEES MEER: Gr. R Lardies verwelkom sewe tweelinge

“Die uitsien en opgewondenheid oor die sportjaar sal vir altyd ’n groot leemte in ons hart los, maar ek het weer besef dat God in beheer is en dat Hy dinge op ’n mens se pad plaas wat ’n mens vorm,” sê sy.

“Ek gaan my heel beste in elke situasie gee, want die lewe is kosbaar en dinge kan in ’n oogwink verander.

“Ek is ongelooflik dankbaar vir die geleenthede wat Hoërskool Menlopark my gebied het en wat ek kon leer van graad 8 tot graad 12.

“Die skool het my geleer en my ondersteun om drome na te jaag. Dit was ’n wonderlike vyf jaar,” sê Noèlle.

Danèlle sê dat 2020 haar die geleentheid gegee het om te besef om alles met groot ywer aan te pak.

“Wanneer ’n mens jou heel beste gee en hard werk, sal jy jou drome kan verwesenlik. Ek sal gemotiveerd bly om in die toekoms hard te werk en voluit te gaan met alles wat ek aanpak.

“Filipense 4:13 bly my inspirasie: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee”.

Danèlle sê dat 2020 ’n moeilike jaar was, veral met die dat sport geensins kon plaasvind nie.

“Ek is sportmal!

“Dit sou die kersie op die koek gewees het om my hoërskoolloopbaan na 12 jare se deelname, spangees en wonderlike belewenisse op die sportveld af te sluit.

“Dit voel asof ons ontneem was van so ’n groot deel van ons lewens, maar ander dinge het vir ons die lewe kom vol maak.

“Dit was nie so maklik om op die akademie te konsentreer sonder ’n lekker harde hokkie-oefening of tenniswedstryd nie, maar almal moes vinnig aanpas en die beste van die situasie maak.

“Ons onderwysers het ons ondersteun en seker gemaak dat ons elke dag by bly met die werk en alles wat ons moes doen.

“My vyf hoërskooljare was vir my wonderlik en ek sal my tyd by Hoërskool Menlopark vir niks verruil nie.

“2020 was nie wat ons wou gehad het nie, maar ek is dankbaar vir die skool wat my drome laat nastreef het en selfs in hierdie moeilike jaar die geleentheid gebied het om my beste te gee.”

Haar raad vir jonger leerders sal wees om ’n balans tussen sportdeelname en akademie te kry.

“Dit vul mekaar aan en ’n mens kan steeds voluit deelneem en jou beste werk lewer.”

Noèlle van der Walt
Aantal vakke: 8
1. Afrikaans 95%
2. English 94%
3. Wiskunde 96%
4. Fisiese Wetenskappe 99%
5. Geografie 96%
6. Lewenswetenskappe 90%
7. Lewensoriëntering 97%
8. Alpha Wiskunde 95%.

Danèlle van der Walt
Aantal vakke: 8
1. Afrikaans 92%
2. English First Additional Language 91%
3. Wiskunde 97%
4. Fisiese Wetenskappe 98%
5. Lewenswetenskap 92%
6. Geskiedenis 89%
7. Lewensoriëntering 97%
8. Alpha Wiskunde 93%.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button