Só sal onderwyser van Affies onthou word
Malan het enkele dae voor haar afsterwe van moegheid gekla. Sy is die aand voor haar afsterwe hospitaal toe gehaas waar sy reeds haar bewussyn in die motor verloor het.
’n Onderwyser van die Afrikaanse Hoër Seunskool (AHS) in die ooste van Pretoria, is in die vroeë oggendure van Woensdag aan ’n hartaanval oorlede.
Magriet Malan (58) is sedert 2016 as Afrikaanse onderwyser aan Affies verbonde.
Skakelbeampte van AHS, Dirk Taljaard sê dat sy ’n groot leemte in die Affies-harte sal los.
Malan was van 2010 tot 2014 by Affies en het later wéér deel van die skool se familie geword.
“Sy was ’n ervare violis en het hulp aan die strykers verleen.
“Verder het sy as redakteur van die Affies se skoolkoerant Stroom-op opgetree en sy was deurentyd besig om die seuns in die kuns van openbare redevoering te onderlê,” vertel Taljaard.
“Sy was besonders rekenaarvaardig en het talle kollegas in hierdie verband ondersteun.
“Ons sal haar vir haar besondere bedagsaamheid, behulpsaamheid en die respek en deernis waarmee sy met haar kollegas omgegaan het, onthou.
“Affies eer haar nagedagtenis met mooi herinneringe,” sê Taljaard.
Malan het enkele dae voor haar afsterwe van moegheid gekla.
Sy is die aand voor haar afsterwe hospitaal toe gehaas waar sy reeds haar bewussyn in die motor verloor het.
’n Nabye vriendin en ’n onderwyser by AHS, Hybre Schoeman sê dat Malan die mooiste hart gehad het.
“Ons word met boodskappe oorval, nie net van AHS nie, maar ook van oud-leerders en ander skole.
“Haar dood het ons onkant gevang,” sê Schoeman.
“Ek dink haar hart kon nie meer al die liefde wat sy vir almal gehad het hou nie. Sy het verskriklik vir almal omgegee. As jy vasgebrand het, was sy altyd daar om ’n handjie by te sit.
“Sy was die mooiste vriendin waarvoor enigiemand kon gevra het. Griet was baie geliefd gewees en sy was ’n goeie mamma, veral vir die jonger personeellede gewees.
“’n Groot Christen. Om te gee was haar liefdestaal,” sê Schoeman.
’n Gedenkdiens vind voorlopig Saterdag plaas.
Die skool sal ’n skakel op sosiale media plaas waar mense die diens kan volg en deel.
Malan laat haar man en twee kinders agter.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
