Local newsNews

Afrikaner-organisasies vat hande om monument finansieel te red

Dr. Danie Langner, (FAK) neem vanaf Woensdag die bestuur by Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, oor.

’n Samewerkingsooreenkoms tussen die direksies van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is Donderdagaand gefinaliseer ná omvattende gesprekke in ’n poging om die monument finansieel te red.

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, sê Dr. Danie Langner, neem vanaf Woensdag die bestuur by haar oor.

Langner is onlangs aangewys as uitvoerende hoof van die FAK, Voortrekkermonument en die Erfenisstigting.

Volgens die ooreenkoms, wat Donderdagaand tydens die ledevergadering goedgekeur is, vat die FAK, Voortrekkermonument en Erfenisstigting hande om ’n “omdraai-strategie” te implementeer.

Volgens Kruger is daar 12 kultuurorganisasies betrokke en behels die strategie om koste te besnoei en nuwe inkomste te genereer.

“Solidariteit sal die koste van die omdraai-proses dra vir ’n beperkte tyd.

“Die besluit is geneem nadat die monument se inkomste drasties afgeneem het.

Volgens Kruger was 80% van die monument se inkomste uit toerisme afkomstig.

“Daar moes al reeds personeel afgelê word. Ons sou R11-miljoen benodig het as ons al ons personeel tot aan die einde van die jaar in ons diens moes hou.”

Kruger sê dat bestaande personeel reeds ’n salarisvermindering van 40% beleef.

“Die monument se munisipale rekening alleen, die water en elektrisiteit, beloop sommige maande tot R200 000.”

Die finansies van die Voortrekkermonument het sedert 2017 skerp begin daal en het weens die Covid-19-inperkings in 2020 net verder versleg.

Die Voortrekkermonument het talle fondsinsamelingsprojekte van stapel gestuur wat tydelike korttermyn finansiële verligting gebring het, maar kon nie volhoubare oplossings daarstel nie.

Die maandelikse begrotingstekorte het die Voortrekkermonument vervolgens by ’n beslissende kruispad gebring.

Ná die FAK se stigting in 1929 is die Sentrale Volksmonumentekommissie vanuit die FAK op die been gebring, wat die Voortrekkermonument gebou het.

In dié tyd van nood het die FAK, met die ondersteuning van die Solidariteit Beweging, ’n historiese verantwoordelikheid om hande te vat en saam te werk aan konstruktiewe oplossings en ’n volhoubare sakemodel.

Volgens ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die direksies van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting, is die samesprekings gevoer en die organisasies se lede en tydsomstandighede gevra dat Afrikaners moet saamwerk om die monument se situasie te stabiliseer en uit te bou.

“Deur samewerking kan kundigheid en kontinuïteit behou word terwyl die Voortrekkermonument as kulturele baken vir die nageslag behoue bly,” sê hy.

“Die alternatief dat die Voortrekkermonument as ’n verklaarde instelling aan die staat oorgegee word. Dit sal nie net ’n aanklag teen Afrikaners wees dat hulle nie vir hul eie erfenis kan sorg nie, maar uiteindelik lei tot die verwaarlosing en vernietiging van die kosbare Afrikanerterrein.”

Aucamp sê by beide direksies is daar ’n diep verbintenis tot die Voortrekkermonument om dit as ’n kulturele tuiskompleks vir Afrikaners uit te bou. Asook om die Erfenisstigting as ’n veilige tuiste vir Afrikaner-argiewe, historiese artefakte uit die Groot Trek en Anglo-Boereoorlog, sowel as ’n reuse genealogie-biblioteek, en Africana-boeke te behou.

Die direksies is opgewonde oor die moontlikhede en nuwe horisonne wat deur noue samewerking, kulturele belyning en gedeelde bestuursdienste ontsluit kan word.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button