Local newsNews

‘n Dameskoshuis van Tukkies neem grootouers hartlik aan

Weens die derde vlaag nuwe Covid-19-infeksies wat die gesondheid van veral bejaardes bedreig, was dit die veiligste opsie om slegs een persoon vir die besoek aan die tehuis te stuur. Die dames is egter hoopvol dat hulle later die geleentheid gegun sal word om hul grootouers persoonlik te kan ontmoet.

Inwoners van die Azalea-dameskoshuis het onlangs by die Neem ’n Grootouer Aan-projek betrokke geraak.

Dié projek bied aan dogters die geleentheid om die grootouers beter te leer ken en om uit hul ongelooflike en interessante ervarings te leer.

Huiskomiteelid van Azalea-dameskoshuis aan die Universiteit van Pretoria, Michelle Kretzschmar het besef dat dié omgee-inisiatief studente sou aanspoor om by bejaardesorg betrokke te raak.

Dié projek pas haar gemeenskapsbetrokkenheids-portefeulje soos ’n handskoen.

“Hoewel die meeste van ons geseënd is of was om grootouers te hê, het ek besef dat jongmense skrikkerig is om spontaan interaksie met ouer persone te hê. As jy eers oor hierdie struikelblok gekom het, kan jy met nuwe oë na die wêreld kyk,” vertel sy.

Huiskomitee-lid van Azalea-dameskoshuis aan die Universiteit van Pretoria, Michelle Kretzschmar. Foto: Verskaf

Dié 20-jarige het die sowat 40 briewe wat deur die Azalea-studente geskryf is persoonlik by Ons Tuis: Riviera en Ons Tuis: Seniorstuis-dienssentrum in Pretoria gaan uitdeel.

Nóg briewe is verlede week by Ons Tuis: Louis Trichardt en Ons Tuis: Van Rensburg in Danville afgelewer.

Weens die derde vlaag van nuwe Covid-infeksies wat die gesondheid van veral bejaardes bedreig, was dit die veiligste opsie om slegs een persoon vir die besoek aan die tehuis te stuur.

Die damesstudente is egter hoopvol dat hulle later die geleentheid gegun sal word om hul grootouers persoonlik te kan ontmoet.

“Om die briewe te gaan uitdeel was ’n besonderse en nederige ervaring. Een tannie kon nie wag om haar brief oop te maak nie en het sommer dadelik begin lees. Ons is passievol oor die projek en sien geen rede hoekom dit in die toekoms met iets anders vervang moet nie; ons kan jaarliks daarop voortbou.

“Ek self kan nie wag tot ons volgende skakeling met ons nuwe oupa’s en ouma’s nie,” sê sy.

“Dit het geen moeite geverg om die studente vir hierdie voelgoedprojek aanboord te kry nie. Ons eerste mikpunt was om briewe aan ons aangenome grootouers te skryf. Elkeen was uniek en spesiaal op sy eie manier,” vertel Kretzschmar.

Die dames het baie moeite gedoen en werklik uit hul harte geskryf. Die meeste het begin deur te groet en hulself voor te stel: wie hulle is, wat hul studeer en waarvan hulle hou.

“Ons wag nou met groot opwinding dat hulle terugskryf sodat ons hulle weer beter kan leer ken,” sê sy.

Volgens die tweedejaarse student in BSc-mikrobiologie, is die ouderdomsverskil tussen die studente en die bejaarde inwoners van die Ons Tuis-tehuise in die projek inspirerend.

Huiskomitee-lid van Azalea-dameskoshuis, Michelle Kretzschmar het besoek aan die grootouers afgelewer. Foto: Verskaf

“Elkeen van hierdie bejaarde inwoners het ’n lewensverhaal om te deel. Waar ons aan die beginpunt van ons lewens staan, is dit wonderlik om te hoor wat hierdie mense alles deurgemaak het en waar hulle hulself vandag bevind.

“Dit laat jou besef dat enigiets in die lewe met jou kan gebeur én dat jy enige moeilikheid kan oorkom. Wanneer ek na hulle stories luister maak dit my opgewonde om my lewe voluit te gaan leef en altyd die beste weergawe van myself te wees,” sê sy.

Die gemeenskapsprojek is volgens Kretzschmar perfek, omdat dit aan alle gesondheids- en veiligheidsvereistes voldoen.

“Vir ’n verandering kan ons al ons energie aan ’n projek spandeer sonder om ons daaroor te bekommer dat dit geskuif of gekanselleer gaan word. Azalea-dameskoshuis se leuse vir 2021 is juis liefde en ons kan dit nou terugploeg in die ouer gemeenskap.

“Die Neem ’n Grootouer Aan-projek bied ook vir ons die geleentheid om te wys ons sien hulle raak en waardeer hulle. Hulle is ’n belangrike, onmisbare skakel in ons samelewing,” sluit sy af.

*Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter

Beste leser,

As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn.

Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.

Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.

Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button