Steyn bring Kersglans na vertoning
Met die Johannesburg-vertoning, A Festive Swing, keer Pretoria-sanger, Monique Steyn, terug na die verhoog vir ’n feestelike produksie met 'n nostalgiese kleurtjie.
Die Pretoria-sanger Monique Steyn glo musiek gaan oor veel meer as note en melodieë en vir haar, veral oor herinneringe.
Met hierdie Desember se Johannesburg-vertoning, A Festive Swing, keer sy terug na die verhoog vir ’n feestelike produksie met ’n nostalgiese kleurtjie.
Vir Steyn is musiek nie bloot ’n loopbaan nie, maar ’n manier om mense nader aan mekaar te bring.
“Ek het geleer om altyd my eie ervaring na die verhoog te bring,” sê sy. “Ons stories op die verhoog word deel van ’n gesprek met die gehoor.”
Dit is ’n benadering wat oor die jare ontwikkel het en wat volgens haar elke vertoning uniek maak. Die verhouding tussen kunstenaar en gehoor is vir haar ’n wisselwerking waarin albei partye groei.
“Ons vertrou mekaar en groei saam,” sê sy. “Dit maak elke optrede uniek, sentimenteel en betekenisvol.”
Vir ’n kunstenaar wat al verskeie musiekgenres bly hierdie uitreik na mense, die hart van haar werk.
Pretoria lê haar steeds na aan haar hart. Hoewel haar loopbaan haar al op verskillende verhoë en na uiteenlopende produksies geneem het, is die stad waar sy haar musiekstudies voltooi het steeds haar tuiste.
“Ek was bevoorreg om musiek in Pretoria te studeer saam met van die beste musikante, van wie ek vandag steeds soms mee saamwerk,” vertel sy. “Hulle het my geïnspireer om hierdie droom na te jaag en gehelp vorm aan die kunstenaar wat ek geword het. Ek was bevoorreg om sedertdien baie te reis, maar Pretoria sal altyd soos huis voel. Dit is die plek waar my diepste wortels geplant is, persoonlik sowel as professioneel.”
Haar professionele reis het begin nadat sy musiek aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie studeer het. Sy het haar eerste professionele verhoogervaring as hoofsangeres in Richard Loring se Girl Talk 2000 by The Sound Stage opgedoen.
Haar debuutalbum se titelsnit, ’n duet saam met Snotkop, het groot byval gevind. Die musiekvideo vir Ek Val Vir Jou het ook aandag getrek en aan haar twee Tempo-toekennings besorg, onder meer vir beste dansalbum en beste musiekvideo.
Met Pienk Champagne het sy ’n album gelewer wat volgens haar ’n besonder persoonlike weerspieëling van haarself was. Haar album Mosaïek, wat saam met Coleske Artists uitgereik is, het haar musikale reis verder uitgebou.
Sy het ook haar ervaring as kunstenaar gebruik om ander te help ontwikkel. In 2018 was sy die mentor van Demi-Lee Moore, wenner van die eerste seisoen van die TV-program, Die Kontrak, en in 2022 het sy Samantha Leonard, die tweede seisoen se wenner, begelei.
Vandag is mentorskap steeds ’n belangrike deel van haar werk.
Haar betrokkenheid by CAS Curro Create beskryf sy as haar gelukkige plek, waar sy jong kunstenaars help om hul potensiaal te ontdek en hul stemme te ontwikkel.
Sy glo daar is altyd plek in die Afrikaanse musiekbedryf vir nuwe stemme en oorspronklike stories.
Vir Steyn is die grootste beloning om daardie eerste vonk raak te sien en te help ontwikkel totdat dit iets besonders word.
“My musiek werk die beste tydens regstreekse vertonings, en dit is waar ek die gelukkigste is,” sê sy.
Dit is een van die redes waarom A Festive Swing haar so opgewonde maak.
Die produksie, aangebied deur Howard Events in samewerking met HOT 102.7, bring die Johannesburg Big Band onder leiding van Adam Howard saam met vier kunstenaars: Steyn, Ross Learmonth, Tracey-Lee Oliver en Harry Sideropoulos.
“Die vervaardigers, Adam en Belinda Howard, ’n 18-stuk-grootorkes, uitstekende sangers en wonderlike feestelike vrolikheid, dit is die resep vir die beste Kersvertoning ooit,” glo sy.
Die musiek sluit bekende feestelike gunstelinge soos Rudolph the Red-Nosed Reindeer en Somer Kersfees in.
“Elke sanger bring sy eie storie en perspektief na ’n liedjie,” verduidelik sy. “Die melodieë is dalk bekend, maar die emosies en ervarings wat ons daarin bring, is uniek aan elkeen van ons.”
Die Kersseisoen het egter vir haar ’n betekenis wat veel verder as musiek strek.
Haar familie het, soos baie ander gesinne, die afgelope paar jaar ook hartseer en verlies beleef. Haar ouers woon deesdae saam met haar suster in George, en sy wens hulle kon die vertoning saam met haar beleef.
“Meer as enigiets wil ek hê mense moet saamwees hierdie Kersfees, die mooi daarvan ervaar om herinneringe te skep en besef hoe belangrik dit is om die mense vir wie ons lief is te vier terwyl ons kan,” sê sy. “Ek hoop bowenal dat hulle met ’n hernieude gevoel van hoop na die vertoning sal weggaan.”
– A Festive Swing word van 11 tot 20 Desember 2026 vir slegs agt vertonings by Montecasino se Teatro aangebied.
– Kliek hier om ’n voorskou te sien: link with Kaden



Ross Learmonth Foto: Verskaf
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
