Die gedenkdiens vir bekende akteur en musikant Lieb Bester, wat verlede week sy stryd teen Covid-19 verloor het, het om 13:00 Woensdag plaasgevind.
Lieb se broer ds. André Bester het die diens behartig vanuit sy gemeente, EG Kerk Rietfontein.
Naasbestaandes en vriende het die diens bygewoon en dit is ook aanlyn uitgesaai.
LEES MEER: Aanlyn gedenkdiens vir Lieb Bester
Meer as 1 500 mense het by die aanlyn diens op YouTube aangesluit en nog op ander aanlyn platforms en sosiale media.
“My Ouboet is by die Here,” het André tydens die diens gesê.
“In my hartseer is daar ook blydskap om te weet waar my Ouboet is en dat hy nie meer ly nie.”
André beskryf ’n hegte band wat hy met sy broer gedeel het en sê alhoewel hul 13 jaar verskil het, Lieb soos sy tweelingbroer was.
Buiten ’n “legende” in die filmbedryf, was Lieb ook ’n kranige musikant en was vir die afgelope jaar orrelis by sy broer se gemeente.
Baie aanhangers sal Lieb onthou met ’n trekklavier byderhand of met sy kitaar.
Tydens die gedenkdiens het honderde boodskappe van medelye en herinneringe met Lieb, aanlyn ingestroom.

Annelize Buitendach skryf:
“Rus sag Lieb Bester. Ons is soveel armer sonder jou, maar die Hemel juig. Soveel mooi herinneringe. Jou legkaart is volmaak nou voltooi. Sterkte aan jou geliefdes, familie en vriende.”
Zelda Verster:
“Baie liefde en sterkte vir Lieb se geliefdes. Ons sal sy herinneringe koester. Rus sag Seun van die Wildtemmer. Jy is nou vry van alles.”
Elize Bronkhorst:
“Wat ’n voorreg om jou te kon ken. Rus in Vrede my vriend. Sterkte aan al jou geliefdes en vriende. Jou plekkie hier is leeg maar eendag sal ons almal weer saam wees.”
Juanelle Maree:
“Oom Andre, Tannie Annatjie, Oom Lieb se kinders en die res van die familie. Ons is so jammer vir julle verlies. Mag Jesus jul deurdra. Ek bid werklik baie vir julle. Juanelle & Werner.”
Hercules van den Heever:
“RIV Lieb. Ons sal jou musiek, kuier en geselsies mis. Jou vriend van Dalview en mede-soldaat, Harry.”
Joey van Niekerk:
“My beste vriend jou vingers is stil, maar die mooi musiek wat jy ons verskaf het sal altyd onthou en voortleef. Rus in vrede Lieb. Sterkte aan al die familie, hy was baie lief vir julle almal.”
Rene Meyer:
“Rus sag Lieb, vir baie jare het ons jou bewonder as akteur en musikant, maar nou is jy op die beste plek, aan Jesus se voete. Ons gaan jou mis. Rus in vrede.”
*Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter
Beste leser,
As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn.
Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.
Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.
Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.
