Helpende Hand strek vanaf Centurion tot Hermanus met 100 winkels
“Ons Winkels is ’n wen-wen-inisiatief wat na vyf belangegroepe toe gedraai is: Die skenker, koper, verkoper, begunstigde en dan natuurlik Helpende Hand."
Solidariteit Helpende Hand het Woensdag sy 100e Ons Winkel-liefdadigheidswinkel oopgemaak en daarmee sy 100e baken van hoop gevier.
Van die Ons Winkels, waarvan die eerste winkel Centurion oopgemaak is, neem ook vandeesmaand deel aan die 100 Dade van Hoop-projek. Bo en behalwe hul normale opbouingswerk, beoog hulle om ook iets besonders in hul gemeenskappe doen.
Johan Nel, uitvoerende direkteur van Helpende Hand Sake, sê dit is vir hom ’n groot voorreg en mylpaal om gedurende sy tyd by Solidariteit Helpende Hand by die stigting van ál 100 winkels betrokke te kon wees.
“Helpende Hand Sake verseker dat ons die Ons Winkel-handelsmerk groei tot ’n huishoudelike naam wat sinoniem is met besighede wat goeie gehalte produkte teen bekostigbare pryse aanbied. En wat ’n volhoubare verskil in hul onderskeie gemeenskappe op ’n gestruktureerde wyse maak,” sê Nel.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, verduidelik die eerste skenkingswinkel het in 2010 in Centurion oopgemaak. Dit het as plek gedien waar die publiek klere en huisware vir liefdadigheid kon skenk. Die skenkings en verkope daarvan is weer direk in die gemeenskap ingeploeg.

Die inisiatief was só gewild en skenkingswinkels het daarna in stede en dorpe landwyd oopgemaak. In 2016 het die verskillende skenkingswinkels ’n eenheid gevorm en onder die vaandel van Ons Winkel begin handel dryf.
“Ons Winkels is ’n wen-wen-inisiatief wat na vyf belangegroepe toe gedraai is: Die skenker, koper, verkoper, begunstigde en dan natuurlik Helpende Hand. Skenkers skenk dit wat oortollig in hul huishouding is, maar weet ook dat dit in kapitaal omgesit word vir verskillende geoormerkte produkte,” sê Noëth.
“Ons kopers is wenners, want hulle kry gehalteprodukte teen baie bekostigbare pryse en is gerus dat dit wat hulle koop, ’n verskil in iemand anders se lewe maak.
“Ons winkelkontrakteurs ontvang die skenkings, verwerk dit en verkoop dit. Ons doen dit gestruktureerd, georganiseerd en met baie fyn kontrole en beplanning. Tans verskaf die winkels werksgeleenthede aan nagenoeg 317 mense.
“Die begunstigdes is natuurlik die grootste wenners van Ons Winkels. Dit is óns streke wat tans 22 maatskaplike werkers kan aanstel, óns studente wat studielenings daaruit kry, sentrums wat kinders in die middae versorg en takke wat verskeie Helpende Hand-projekte kan aanpak,” sê hy.
Noëth meen dat Ons Winkels die geleentheid skep vir almal om by te dra tot die nood van mense, die voorsiening in behoeftes. En om ’n sinvolle bydrae in die hantering van armoede te maak.
“Sáám kan ons almal ’n groot verskil maak, stap bloot net by jou naaste winkel in, en koop of skenk iets. Dit is die ideale manier om van oorbodige items ontslae te raak, en boonop weet jy dit gaan aangewend word om ’n verskil te maak,” voeg hy by.
Enigiets kan by die Ons Winkels afgegee word, van meubels, gereedskap, oudhede, kombuisware, klere, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting en tegnologiese ware.
Die 100e Ons Winkel is op Hermanus geopen, en die sanger Jak de Priester het die geleentheid saam met Helpende Hand gevier.
Deel van dié vieringe was om 100 dankie-sê-pakkies aan Mediclinic Hermanus se personeel uit te deel.
Dit vorm deel van Helpende Hand se #WitStrik-gebaar, ’n simbool van dankbaarheid vir die onbaatsugtige werk wat die Covid-19-voorgrondwerkers gedurende die pandemie lewer.
Die Wit Strik het ook ’n draai gemaak by hospitale in Centurion.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
