FAK en Laerskool Pierneef bring hulde aan die skilder, Pierneef
Almal het ingespring om Pierneef, na wie dié skool vernoem is, se graf in die Heldeakker-begraafplaas skoon te maak.
Lede van die FAK-Noord van die Berg-en Moot-Kultuurnetwerk, leiers en onderwysers van Laerskool Pierneef het Vrydag hulde aan die skilder JH Pierneef op dié se verjaarsdag, gebring.
Almal het ingespring om Pierneef, na wie dié skool vernoem is, se graf in die Heldeakker-begraafplaas skoon te maak. ’n Krans is ook op sy graf gelê.
Die projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, Barry Müller, sê dié projek is juis aangepak om Pierneef se lewe te vier.
“Ons het sy peetpa, Anton van Wouw, se graf ook ’n paar weke gelede gaan skoonmaak,” noem Müller.
’n Onderwyser van die laerskool, Bonita du Plessis, sê dit was ’n ongelooflike voorreg om só ’n projek, om hulle nalatenskap te herdenk, te doen.
“Die opwinding en vrae van die leerders oor Pierneef was verfrissend.”
Die leerlinge van Pierneef het die dag ook terdeë geniet.
“Dit was die lekkerste dag óóit,” sê Burger Badenhorst.
Nóg ’n leerder, Kiara Oosthuizen, sê dat sy sommer na afloop van die skoonmaak-aksie net meer oor Pierneef wou leer.
’n Ander leerder, Zander Labuschagne, sê dat hy al ’n taak oor Pierneef gedoen het en ten minste weet waar hy begrawe is.
“Een van die Pierneef se skilderye is miljoene werd. Kan juffrou ons gaan wys watter van die skilderye by die skool oorspronklik is,” het hy so ewe na afloop van die aksie gevra.
Jacob Hendrik Pierneef is op 13 Augustus 1886 in Pretoria gebore, die jaar toe sy pa, Gerrit, een van Johannesburg se eerste geboue uit hout en sinkplaat in Markstraat 53 gebou het.
Sy pa wat as Gerrit Westmaas in Nederland op 28 Junie 1855 gebore is, was ’n Hollandse boukontrakteur. Sy ma, Neeske Christiane Buser, was van Voortrekkerafkoms.
Dit is nie duidelik wat tot Gerrit se vansverandering van Westmaas na Pierneef aanleiding gegee het nie.
Pierneef het in ’n gesin van ses kinders grootgeword.
Die gesin het in Lewisstraat in Pretoria gewoon, waar die sportklub Oostelikes vroeër jare was waar Pierneef in die Staatsmodelskool skoolgegaan het. Dit is daar waar hy sy eerste kunsklasse, saam met twee van sy groot skoolvriende wat ook later kunstenaars geword het, Fanie Eloff en Cordon Leith, bygewoon het.
JF Hondius, wat Pierneef die fynere kuns van skilder geleer het, het sy voorliefde vir die platteland aangemoedig.
Nog ’n leermeester, dr. HG Breyer, het die kinders die veld ingeneem om hulle meer oor natuurwetenskap te leer.
Sy laaste werk was in 1955 – ’n ontwerp vir die wapen van die Laerskool Pierneef, wat ’n kameeldoringboom uitbeeld.
Hy is op 4 Oktober 1957 op die ouderdom van 71 jaar in Pretoria oorlede.
Lank voor sy dood het Pierneef gesê dat hy eendag onder ’n kameeldoringboom begrawe moet word sodat die “sterk manlike karakter kan waghou oor hom met sy wortels diep in Afrika se grond”.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
