Skoonsussies se kinderboekdrome verwesenlik
Die idee agter verpersoonlike kinderboeke was, om daardie warm gevoel wat ’n vrolike storie en oulike illustrasies in mens se hart skep.
Skoonsussies, Mariana van der Merwe en Cené de Wit, het ’n eerste van sy soort kinderboek in Suid-Afrika onlangs uitgebring.
Dié twee het nog altyd ’n droom gehad om verpersoonlike kinderboeke te skryf.
Wat MyStories uniek maak, is dat jy self jou eie karaktertjie kan uitbeeld. Jy kan tussen ’n seuntjie en ’n dogtertjie kies en verskeie haarstyle en velkleur. Mits jy wil, kan jy tot sproete of ’n brilletjie bysit – van ’n blondekopdogtertjie met twee boksterte tot ’n blas seuntjie met ’n krullebol.
Van der Merwe, ’n inwoner van Queenswood in Villieria, het haarself as klein dogtertjie belowe dat sy eendag kinderboeke gaan skryf.
Sy het nog altyd ’n liefde vir taal en skryf gehad. Nadat sy ’n kursus by die Suid-Afrikaanse skrywer, Anna Emm voltooi het, was daar geen meer keer aan haar droom nie.
Skoonsus De Wit, wat in Ermelo bly, is ’n grafiese ontwerper van beroep en meteens het ’n droom posgevat – ’n droom om unieke stories vir kinders te skep.

Een idee het tot die volgende gelei en sewe maande later is MyStories se eerste verpersoonlike boek, Waar kruip Hadeda se lag weg? op die rakke.
“Dit het al ons verwagtinge oortref. Daar was baie belangstelling en ons het uitstekende terugvoer van die lesers ontvang,” vertel hulle.
’n Verpersoonlike boek is ’n boek wat spesiaal vir iemand ontwerp is.
“Wanneer jy ’n boek koop, spesifiseer jy self die hoofkarakter se naam en eienskappe. Dit word dan deel van die titel en voorblad en verskyn reg deur die boek. Die stories bly dieselfde, maar die hoofkarakter kan verander na hartelus.”
Die eerste boek was op vriendskap, motivering en determiniasie gemik.
“Illustrasies kan ’n kinderboek maak of breek. Ons het van die begin af geweet. Ons het ’n professionele illustreerder nodig gehad en dit is waarom ons ’n jare lange vriendin Ronel Watkins ingespan het.
“Sy het haarself puik van haar taak gekwyt en is op haar gemak met ’n potlood en ’n kwas in die hand.
“Ons derde boekie, Die Rooi Ballon, is deur Christopher Pinto illustreer.
“Ons hoofkarakter wil so graag ’n nagapie sien. Midde die soektog loop die hoofkarakter ander diere raak wat almal in een of ander nood is. Gou-gou word hul probleme opgelos en die karakter se geduld goed beloon. ’n Storie oor vriendskap, behulpsaamheid en lekker verrassings.”
Die idee agter verpersoonlike boekies was, om daardie warm gevoel wat ’n vrolike storie en oulike illustrasies in mens se hart skep.
Dit bied ook ’n wonderlike geleentheid om kreatief te wees – iets wat dié twee baie geniet.
“Aan die ander kant, is dit so lekker vir ’n kind om hom/haarself in ’n storie te erken en hul eie naam te hoor.
“Dit skep ’n gevoel van identiteit en behoort wat terselfdertyd ’n liefde vir lees kweek. Een van die groot voordele van ’n verpersoonlike ervaring, is dat dit ’n kind se selfbeeld bevorder.
“Persoonlik is ons mal oor die feit dat hierdie storieboeke kwaliteit kind-ouer tyd bevorder. Daar is darem maar min dinge so lekker soos om op jou mamma, pappa, oom of tannie se skoot te sit en saam storie te lees nie.”
Van der Merwe en De Wit noem dat elke storieboek met soveel liefde geskryf, geïllustreerd en ontwerp word.
“Daar is ’n inspirasie-storie agter elke boek.
“Die stories is opbouend, skoon en lig – iets wat ’n mens nie om elke hoek en draai kry nie. Die feit dat die boek eie tot elke kind is, maak dit ekstra spesiaal.”
Hulle is besig om aan ’n oulike rympie-boekie te werk.
“Ons het ongelooflike baie planne. Die rympie-boekie gaan ’n groot treffer wees en ons is baie opgewonde daaroor.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
