Voortrekkermonument vier plante op lentedag
“Die tuin met medisinale plante en kruie is vandag in die blombeddings by die wa-laer van geplant. Ons is baie opgewonde dat daar in die blombedding kruie en medisinale plante wat as medisyne in die Groot Trek gedien het, geplant word.”
Die Voortrekkermonument (VTM) het die lente Woensdag gevier deur medisinale plante, kruie en plante wat volgens boererate vir genesing gebruik word by die monument aan te plant.
“Hierdie plante was nog altyd ’n deel van die Afrikanerkultuur. Ons het vandag, op die eerste dag van lente, van hierdie plante aangeplant om nuwe wortels te laat skiet om dié tradisie te laat voortleef,” sê Dr Danie Langner, besturende direkteur van die VTM.
“Die tuin met medisinale plante en kruie is vandag in die blombeddings by die wa-laer van geplant. Ons is baie opgewonde dat daar in dié blombedding kruie en medisinale plante wat as medisyne in die Groot Trek gedien het, geplant word.”
Benewens hierdie plante, was broodbome en bloulelies (agapante) deel van dié tuinbeplanning gewees.
Prof Kobus Eloff, ’n plantbiochemikus, het die monument bygestaan om te verseker dat die plante wat aangeplant word, goed daar sal aard en medisinale waarde sal hê.
“Prof Eloff was ’n professor by die Universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en ’n buitengewone professor by die Universiteite van Stellenbosch, Johannesburg en Suid-Afrika. Hy was ook uitvoerende direkteur van die Nasionale Botaniese Tuine en Direkteur Navorsing van die Nasionale Botaniese Instituut. Hy het die fitomedisyneprogram aan die Universiteit van Pretoria tot stand gebring.
LEES MEER: Hoërskool Waterkloof se sportburo open moderne nuwe ontwikkeling- en prestasiesentrum
“Prof. Eloff dien ook op die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat die boek, Volksgeneeskuns in Suid-Afrika, ’n Uitgebreide versameling van Boererate, in 1965 uitgegee het, se raad. Hy is ’n internasionale erkende leier in sy veld, waar hy die gebruik van plante bestudeer om infeksies deur mikro-organismes en besmettings via parasiete op mense, diere en plante aan te spreek. Hy verduidelik dat in verskeie gevalle plantekstrak baie meer suksesvol as kommersiële produkte is om menslike velinfeksies te behandel.”
Volgens Eloff kom 10% van die wêreld se plantspesies in Suid-Afrika voor.
Hy vertel hulle werk by die fitomedisyneprogram aan die Universiteit van Pretoria, is om te kyk of daardie plante “werklik aktief en veilig is om te gebruik”.
“Dis wat vir my die passie gee om met hierdie goed te werk. Daar is ook so baie studente wat daarin belangstel. Dis ’n vreugde om daarmee betrokke te wees.”
Eloff is baie opgewonde oor die medisinale plante wat by die Voortrekkermonument aangeplant gaan word.

“Dit is ’n uitstaande idee om die plante wat die Voortrekkers tydens die Groot Trek gebruik het, hier aan te plant. Baie van die plante wat reeds hier is soos die clivias, koraalboom en agapante is nog mooi ook. Die doel van hierdie plant is nie om dit self te gebruik nie. Daarvoor moet jy baie versigtig wees. Daar is baie medisinale plante wat toksies is ook.”
Die bekende kok, kosskrywer en sanger, Willie Strauss, het ’n spekboomkoek gemaak en het ook gesels oor hoe hy kruie en ander plante in sy kos gebruik.
“Ek wou al baie lankal ’n spekboomkoek gemaak het. Dit het my baie geïnteresseer oor hoe dít sou proe en om spekboom op ’n ander manier te gebruik. Noem vir iemand die woord: spekboom en almal se oë is helder. Dis goed om dit te plant, maar ook om daarmee te kook.”
Strauss, wat in 2018 die resepteboek, Daar is ’n engel in my koskas, uitgereik het, vertel dat hy van jongs af op hulle familieplaas, Vyfbeker, in die Kenhart-distrik in die Noord-Kaap, aan plante van die veld blootgestel is.
Tilania du Preez van die Broodboom Trust het ook oor die belangrikheid van dié oeroue gesogte plant gesels.
“Broodbome is 165 miljoen jaar oud. Hulle is so oud soos die dinosourusse. Dit is ’n fantastiese plant wat aangepas is vir ons droër klimaat.”
Volgens Du Preez is daar twee inheemse broodboomsoorte in Suid-Afrika.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
