Local newsNews

Rebellie-lid deur FAK-Kultuurnetwerke vereer

Ná die oorlog het Jopie Fourie sy belangstelling in die politiek getoon en die beleid van generaal Louis Botha tot kort voor die Rebellie trou ondersteun.

Om Afrikaner volksheld Jopie Fourie se geboortedatum te herdenk, het die FAK verlede week eer aan hom betoon met kransleggings en linte by verskeie plekke wat betrekking het tot Fourie in Pretoria.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke en Quentin Meyer, lid van die FAK-Noord van die Berg-Kultuurnetwerk, het eerste by die Jopie Fourie-gedenkteken, wat tussen Pretoria en Brits aan die voet van die Magaliesberge staan ter nagedagtenis aan Jopie Fourie, ’n krans gaan lê.

Kranse is ook by die Fourie-familiebegraafplaas gelê.

Linte is aan die straatnaamborde asook by die ingangshek by die Laerskool Jopie Fourie in Salvokop geknoop, baie naby aan die Pretoria-Sentraal-gevangenis, waar Fourie op 20 Desember 1914 by dié tronk voor ’n vuurpeleton tereggestel is.

Die heel laaste eerbetoon aan Jopie Fourie, was by sy graf in die Heldeakker-begraafplaas.

Josef Johannes (Jopie) Fourie is op 27 Augustus 1878 op die plaas Wildebeesthoek, distrik Pretoria, gebore.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, het hy op kommando gegaan.

Hy is net bokant die knie gewond wat hom later mank laat loop het. Ná die oorlog, het hy sy belangstelling in die politiek getoon en die beleid van generaal Louis Botha tot kort voor die Rebellie van 1914 trou ondersteun.

Fourie het in die ure voor sy dood ’n aantal briewe aan sy volk, sy vrou en familie geskryf.

Nadat hy op 19 Desember 1914 skuldig bevind is aan verraad (omdat hy as lid van die Unie-Verdedigingsmagte aktief aan die rebellie deelgeneem het) is die vonnis gelewer.

Dit is minder as 24 uur later voltrek. Ten spyte van die emosies wat daar sekerlik in sy binneste moes woed in dié tyd, het hy in ’n brief aan sy volk ’n treffende oproep gelewer.

Sy vermaning aan sy volk, soos hy dit self stel, is eenvoudig. Dit is ’n vermaning wat vandag nog net soveel betekenis dra as tydens die worstelinge van 1914: “Wees getrou tot die dood. Wees getrou aan u tradisies, aan u taal en aan u volk”.

Kitsfeite

– Joseph Johannes (Jopie) Fourie is op 27 Augustus 1878 op die plaas Wildebeesthoek in die Pretoria-distrik gebore.
– Hy was by die Anglo-Boereoorlog betrokke, maar teen Oktober 1901 het hy hom aan die vyand oorgegee om mediese behandeling te ontvang vir ’n ernstige beenwond waaroor hy vir sy lewe gevrees het. Hy was tot en met Februarie 1902 in ’n hospitaal in Pretoria verpleeg, maar was permanent mank. Hy is hierna as krygsgevangene aangehou.
– Jopie en sy broer Johannes was albei steeds lede van die Unie-Verdedigingsmagte ten tyde van die 1914 Rebellie-jare. Hulle is albei gevange geneem vir hul deelname aan verraad en is op 19 Desember 1914 skuldig bevind en ter dood veroordeel. Johannes is egter dieselfde dag begenadig en sy straf is tot vyf jaar gevangenisstraf met dwangarbeid verminder.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button