Innibos Laeveld kunstefees beloof om nie teleur te stel
"Ons gaan voluit feesvier saam met van Suid-Afrika se topkunstenaars op die verhoog."

Die immergewilde Innibos-kunstefees het onlangs bekend gemaak dat vanjaar se fees, Bietjie-bietjie-Bos van 1 tot 5 Desember 2021 gaan plaasvind.
Feesgangers word aangeraai om nie op die nippertjie kaartjies aan te koop nie, aangesien slegs ’n aantal beperkte kaartjies beskikbaar is as gevolg van Covid-19-regulasies.
Dit is ook belangrik om kennis te neem dat die feesterrein by Hoërskool Bergvlam in die Laeveld, Mbombela eers om 16:00 sy hekke sal oopmaak voor die musiekkonserte van Vrydag tot Sondagaand om 18:30 afskop.

Media- en bemarkingsbestuuder van die fees, Sandra Jacobs, beloof vanjaar hope talent en goeie gees.
“Vanweë die Covid-beperkings, is dit onmoontlik om die feesterrein op sy gewone skaal aan te bied.
“Ons gaan voluit feesvier saam met van Suid-Afrika se topkunstenaars op die verhoog,” sê Jacobs.

Vrydag- en Saterdagaand sal daar ook ’n versekeidenheid kos- en ander stalletjies op die feesterrein wees, sowel as biertente en vermaak vir die jongspan.
Toegangskaartjies na die feesterrein is R220 per persoon wat veilige parkering op die feesterrein insluit.

Feesgangers kan op die eerste aand na vertonings van Francois van Coke, Spoegwolf, Elandré Schwartz, Robbie Wessels en Coenie Naudé op die Standard Bank-verhoog uitsien.
Karen Zoid, Snotkop, Karlien van Jaarsveld, Rooksein en Anne-Mari is Saterdag op die verhoog te sien.


Kaartjies vir die Kersloffees op Sondagaand is R50 per persoon, en sluit weer eens veilige parkering op die feesterrein in.
Germandt Geldenhuys, Jannie Moolman, Chris Else, Wynand en Cheree Strydom en Leon Ferreira gaan Kersfees- en ander geestelike liedere sing.
Bietjie-bietjie-Bos het al die elemente van ’n volwaardige kunstefees, met feesterreinkonserte, sowel as ’n toneel-, leefstyl-, kuns- en boekprogram.
Die volledige program is by www.innibos.co.za beskikbaar.
Feesliefhebbers kan ook Tjirp aflaai om op hoogte van die jongste feesnuus te bly.
Kaartjies is nou by Computicket by www.computicket.co.za te koop.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
