News

Eer ons vierpoothelde, vra oud-polisieman

Roché Vermaak glo dienshonde is meer as net diere in uniform. Ná tien jaar in die polisiediens en twee lewensgevaarlike ervarings waarin honde sy lewe gered het, beywer hy hom vir hul erkenning en beskerming.

Vir Roché Vermaak van die Moot is ’n dienshond veel meer as ’n dier wat saam met ’n polisie- of enige ander diensbeampte soos ’n veiliheiswag werk. So ’n dier is vir hom ’n kameraad, ’n beskermer en ’n individu wat respek verdien.

Sy eie ervarings in die polisie se diens het hierdie oortuiging gevorm, en vandag beywer hy hom aktief vir die erkenning en welsyn van diensdiere.

Fondse is onlangs gebruik deur ’n organisasie vir diensveterane waarby hy betrokke is, vir ’n gedenksteen ter ere van Sky by die Diere in Krygsdiens-gedenkmuur by die Voortrekkermonument.

Die gedenksteen is reeds opgerig maar sal in Maart 2027 onthul word.

Sky was ’n vyfjarige Belgiese herdershond (Malinois) wat ná haar diensjare weens uiterste verwaarlosing en wanbestuur in ’n polisie-dierehospitaal in Roodeplaat gely het. Nadat haar poot in ’n hok se hek vasgehaak het, het sy ernstige frakture en komplikasies opgedoen en moes sy uiteindelik uitgesit word.

Haar tragiese dood het wydverspreide openbare woede in Suid-Afrika ontketen en gelei tot eise vir geregtigheid en aanspreeklikheid binne die SAPD se diere-eenhede.

Vermaak beskou Sky as ’n waardige verteenwoordiger van die diensdierekorps. Hy glo dat die opoffering en lojaliteit van sulke diere nie as vanselfsprekend aanvaar mag word nie.

Roché Vermaak en Wolfi Foto: Elize Parker

Hy het self tien jaar lank met dienshonde in die polisie gewerk, vanaf 1981 tot 1991.

Sy eerste polisiehond, Shep, het ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak. “’n Hond is nie net ’n nommer nie,” sê Vermaak.

Sy eie geskiedenis van innige bande met honde, het egter lank voor sy polisieloopbaan begin.

Hy het in ’n gesin grootgeword waar honde altyd deel van die huishouding was. Sy pa was lief vir diere, en die gesin het veral baie aandag aan hul Labrador, Snoep, moes gee. Die hond se besige geaardheid het hom ’n besondere plek in die gesin besorg.

Dit was dus ’n natuurlike stap vir Vermaak om sy belangstelling in en liefde vir honde in diens van die gemeenskap te gebruik.

Ná sy skooljare aan Hoërskool Kwaggasrand het hy aansoek gedoen om ’n polisiebeampte te word en is gekeur om in die honde-eenheid opgeneem te word. Hy is vir opleiding na die honde-eenheid in Pretoria-Wes gestuur, waar hy drie maande se opleiding ontvang het.

Volgens Vermaak was die eenheid destyds ’n besondere afdeling. Die room van die polisiediens is daaraan toegewys.

Bloedhonde wat vir speurwerk en opsporing gebruik is, is aan speurders toegeken, maar meesal is Duitse herdershonde gebruik. Mettertyd is skaaphonde toegewys aan die eenheid om veediefstal te bekamp en ook Rottweilers is later as diensdiere ingeneem.

Die honde is aan hul hanteerders toegewys. Vermaak onthou ook dat die polisie destyds op skenkings staatgemaak het om honde vir dienswerk te bekom.

Sy eerste hond, Shep, het hom die waarde van opleiding en samewerking geleer, maar ook hoe lewensbelangrik ’n dienshond in ’n gevaarlike situasie kan wees.

Vandag is Vermaak steeds aktief betrokke by die bevordering van diensdiere se belange. Hy was een van die pioniers onder diensveterane wat gehelp het om ’n gedenkmuur vir diensdiere tot stand te bring nadat hy tydens talle reise soortgelyke gedenkmure gesien het.

Die gedenkmuur is geskep om dié nalatenskap te erken, maar Vermaak glo dat erkenning nie net oor die herdenking van diere wat reeds lank gelede dood is, moet gaan nie. Daar moet deurlopend soos met Sky se afsterwe, nog steeds eer gebring word.

Die band tussen diensdiere en veterane is volgens hom besonder sterk. Dit is ’n verhouding wat deur gedeelde ervarings gevorm word, en wat dikwels lank ná die einde van aktiewe diens voortduur.

Honde bly ook ’n belangrike deel van Vermaak se eie lewe. Hy het tans vir Wolfi en Inga tuis as honde. Wolfi is steeds ’n werkende hond en verteenwoordig diensdiere by militêre parades. Tydens sulke geleenthede neem hy saam met Inga aan kransleggings deel.

Vermaak is verder by sy plaaslike buurtwag in die Moot betrokke en doen saam met Wolfi patrollies in die buurt.

Hy doen ’n beroep op die publiek om waaksaam te wees oor die behandeling van diensdiere by winkelsentrums, sekuriteitsfirmas en ander plekke waar honde vir beskermings- en patrolliewerk gebruik word.

Hy moedig mense aan om gevalle van moontlike verwaarlosing by die DBV aan te meld. Dit sluit honde in wat vir lang tye aan kettings vasgemaak word, in te klein hokke aangehou word of tekens van kennelstres toon.

Vir Vermaak gaan hierdie saak oor veel meer as dierewelsyn. Sy boodskap is eenvoudig: diensdiere verdien nie net erkenning wanneer hulle sterf nie. Hulle verdien ook behoorlike sorg, beskerming en respek terwyl hulle leef. “Diensdiere is ons engele op bene,” sê hy.

Gedenkplaat vir Sky, polisiehond, by Voortrekkermonument se Diere in Krygsdiens-gedenkmuur. Foto: Elize Parker

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button