Voortrekkermonument inspireer Amerikaanse kunstenaar
Wright het onlangs die aandag van die Voortrekkermonument getrek toe sy ’n illustrasie van dié gebou op haar sosiale media gedeel het.
Jessica Wright, ’n kunstenaar van Texas in die VSA, het onlangs die aandag van die Voortrekkermonument getrek toe sy ’n illustrasie van dié gebou op haar sosiale media gedeel het.
Met ’n eenvoudige hitsmerk, het Wright nie net twee uiteenlopende wêrelde verbind nie, maar ’n magdom vrae laat ontstaan soos wie is dié kunstenaar? Wat inspireer haar? En dan dalk een van die belangrikste vraag, waarom juis die Voortrekkermonument?
Die 32-jarige Wright, sê dat sy nog altyd ’n groot liefde vir kuns gehad het en hoewel sy 13 jaar gelede besluit het om meer tyd aan haarself en haar familie te bestee en ook haar seuns tuis onderrig te gee, maak sy steeds daagliks tyd om haar kuns te beoefen.
“Ek was van kleins af baie lief vir kuns en het later besluit om kuns, argitektuur en ontwerp deur Texas Tech-universiteit te studeer,” vertel sy.
“Ek het so paar jaar afgevat om my kinders by die huis te onderrig, maar ek het die afgelope twee jaar weer baie op my kuns begin fokus.”
Soos die noodlot dit wou hê, het haar paaie jare gelede met dié van ’n Suid-Afrikaanse paartjie uit Vrede in die Vrystaat gekruis en dit is hierdie vriendskap wat haar geïnspireer het om die Voortrekkermonument-kunswerk te skep.

“Cornelius (Neils) de Jager en sy vrou Wanda bly ook in Hereford (Texas). Hulle is die lieflikste mense en ons het vinnig vriende geword na hul hierheen getrek het van Vrede af.
“Neils het vroeër vanjaar vir my gevra om vir hom ’n eg-Suid-Afrikaanse kunswerk te maak en so het hy my meer oor die Voortrekkermonument geleer.”
Sy en haar gesin hoop om eendag ’n draai in Suid-Afrika te kom maak om te kom sien wat dié gebou so spesiaal maak.
“Al was ek en my gesin self nog nooit in Suid-Afrika nie, is dit ’n plek wat my al fassineer het vandat ek vir Neils en Wanda ontmoet het. Ek het selfs al met my kinders projekte oor die land, en die Voortrekkermonument gedoen.
“Ons sien baie uit om eendag moontlik Suid-Afrika toe te kan kom en natuurlik besoek aan die Voortrekkermonument af te lewer.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
