News

Vertoning vier 23 jaar van inspirasie

Pierneefteater se Ten Spyte Van-vertonings vier vanjaar hul 23ste bestaansjaar met twee spesiale geleenthede waarin mense met gestremdhede hul talente, stories en vermoëns met gehore deel. Die geleentheid, wat deur Cordis Trust ondersteun word, fokus op bewusmaking, inspirasie en ondersteuning, met vrywillige gehoorbydraes wat direk aan deelnemers gaan.

By Pierneefteater word mense met gestremdhede se vermoëns en talente weer in Oktober gevier wanneer die Ten Spyte Van-vertonings vir die 23ste keer aangebied word.

Die geleentheid bied deelnemers ’n verhoog om hul stories, vaardighede en talente met die gemeenskap te deel.

Ten Spyte Van word vanjaar op Sondag 4 Oktober om 14:00 en Saterdag 17 Oktober om 10:00 by die Pierneefteater in die Moot aangebied. Toegang is gratis en gehore kan deur middel van vrywillige bydraes die deelnemers ondersteun.

Volgens Jopie Koen, bestuurder van die teater, het die geleentheid oor meer as twee dekades ’n belangrike deel van die teater se jaarprogram geword.

“Dit was nog elke jaar sedert 2003 ’n groot sukses en ’n ewe groot voorreg om dit te kon aanbied. Terwyl daar in die eerste paar jaar heelwat groepe deelgeneem het, is daar die afgelope klompie jare meer individuele deelnemers,” sê Koen.

Die geleentheid het ontstaan uit ’n samewerking tussen Pierneefteater en Cordis Trust.

Koen sê die doel is om mense wat daagliks met verskillende struikelblokke rondom hul gestremdhede te doen kry, ’n geleentheid te gee om hul vermoëns voor ’n gehoor te vertoon.

Sy verduidelik dat die ondersteuning van dr. Fanie Marais en Cordis Trust speel sedert 2003 ’n besondere rol in die voortbestaan van die geleentheid.

“Die vertonings en samewerking met die Trust het my lewe onmeetbaar verryk,” sê sy.

Vanjaar se program bestaan uit deelnemers van vorige jare wat steeds beskikbaar is om op te tree, asook nuwe deelnemers.

“Elke deelnemer het ’n eiesoortige verhaal om te vertel en ’n boodskap om oor te dra,” sê Koen.

Sy beskryf die optredes as hoogtepunte in die teaterprogram en sê gehore kan verwag om deur die deelnemers se optredes geïnspireer te word.

Vir haar lê die waarde van die geleentheid egter ook in die manier waarop dit mense se perspektief van mense met gestremdhede kan verander.

“Een van die belangrike doelstellings van Ten Spyte Van-vertonings is bewusmaking. Ons is so geneig om deur die lewe te gaan sonder om altyd kennis te neem van wat rondom ons met ander mense se lewens aangaan.”

Koen hoop dat selfs ’n klein oomblik van inspirasie ná een van die vertonings tot groter begrip en ondersteuning kan lei.

“Al is daar net ’n klein vonkie wat iewers in iemand se gemoed aangesteek word wat hulle inspireer om hulle eie klein bydraes te lewer om mense met gestremdhede se lewens makliker te maak, is dit iets om voor dankbaar te wees.”

Sy sê die deelnemers wys telkens dat hul lewens en vermoëns nie deur hul uitdagings gedefinieer word nie. “Hulle wys dat hulle bo hulle beperkings en bo die hindernisse in hulle lewens kan uitstyg.”

Wanneer sy oor vanjaar se deelnemers praat, sê Koen elkeen staan vir haar uit.

“Hulle het die moed van hulle oortuiging om te kom wys dat hulle hul lewens ten volle leef en hulle talente uitleef.”

– Die 23ste Ten Spyte Van-vertonings word op Sondag 4 Oktober om 14:00 en Saterdag 17 Oktober om 10:00 by Pierneefteater aangebied. Bywoning is gratis en vrywillige bydraes word tussen die deelnemers van die betrokke dag verdeel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button