Local newsNews

Stoeier van die Moot eersdaags in aksie by wêreldkampioenskappe

"Hierdie kampioenskappe gaan merendeels vir my oor die ervaring wat ek gaan opdoen om teen van die wêreld se bestes te stoei."

’n 14-jarige atleet van die Moot, Chloe Brewis is eersdaags oppad na die Wêreld Stoeikampioenskappe in Rome, Italië, waar sy in die o.17-afdeling in die 49-kilogram-kategorie op die mat in aksie sal wees.

Brewis is onlangs vir die Suid-Afrikaanse skole sportsterre van die maand genomineer met die dat sy die jongste stoeier in die nasionale span, wat aan die Afrika-kontinentale kampioenskappe in Marokko deelgeneem het, was. Hier het sy ’n tweede plek op die podium ingeneem. Dit was met hierdie toernooi wat sy haar plek op die vliegtuig na Italië bespreek het.

Dié was egter nie haar eerste veer in die hoed in die sport nie.

In 2018, is sy die eerste dogterstoeier óóit wat in die Noordvaal-span opgeneem is. Die volgende jaar het sy weer deel van die span uitgemaak.

Op 12-jarige ouderdom, het sy in 2019 onder die vaandel van Suid-Afrika aan die Tallinn-ope in Estland in die noorde van Europa in die o.15-ouderdomsgroep deelgeneem waar sy in die finale rondte teen ’n stoeier van Swede te staan gekom het waar sy ’n goue medalje om haar nek gehang het.

Chloe Brewis (14) in aksie.

’n Jaar later is sy weer vir die Tallinn-ope gekies, maar twee dae voordat die span sou vertrek, breek die nuus oor die Covid-19-pandemie. Die toernooi moes noodgedwonge gekanselleer word.

“Dit is ongelooflik om op so ’n jong ouderdom raakgesien te word. Ek het op die ouderdom van sewe met die sport begin, en as ek terugkyk kan ek nie glo waar ek begin het en waar ek nou is nie,” sê Chloe.

Sy is tans ’n lid by Centurion-stoeiklub onder die waaksame afrigting van Shane en Sloane Goosen.

Haar pa, Morné was self ’n kranige stoeier en dit is hoe haar belangstelling in die sport begin het.

“Ek het altyd oefeninge saam met my pa bygewoon. Op ’n dag het ek besluit om self op die mat te klim en saam te begin oefen. Ek kan daardie dag soos gister onthou. Daar is vir my gesê dat ek nie net sommer op die mat kan staan nie, waar ek toe terug antwoord, maar ek is hier om saam te oefen,” lag sy.

Haar jonger sussie, Lashay (11) het ook verlede jaar ’n goue medalje tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe verower.

Sy beoog om in Italië net haar beste te gee en is nie soseer gefokus op ’n podiumplek nie.

Chloe Brewis saam met haar voormalige afrigter, Nico Coetzee.

“As ek tenminste net een van die rondtes kan wen, sal ek tevrede wees. Hierdie kampioenskappe gaan merendeels vir my oor die ervaring wat ek gaan opdoen om teen van die wêreld se bestes te stoei.

“Dit sit nie sommer in enigiemand se broek om gedissiplineerd in die sportsoort te wees nie – ek moet konstant die aantal kalorieë wat ek inneem dophou, liters water drink en my dieët stiptelik volg.

“Die oggend voor ’n toernooi word ons geweeg en dan kan ek nie bekostig om meer te weeg as die kategorie waarvoor ek ingeskryf het nie.’

Haar langtermyn-doelwit, is om ’n sportbeurs in Amerika los te slaan om haar stoeiloopbaan tot die volgende vlak te neem met die hoop om aan die Olimpiese Spele deel te neem.

Chloe (14) en haar sussie Lashay (11) tydens 2021 se Suid-Afrikaanse kampioenskappe.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button