Die Erfenisstigting onthou Jan Smuts
"Ek hoop almal wat die praatjie bygewoon het, asook elke besoeker aan die stigting en ons nuwe 1942-uitstalling, kon met iets wegstap en ’n ander blik op daardie era van ons geskiedenis kry."
Generaal Jan Smuts is seker een van Suid-Afrika se mees omstrede geskiedkundige figure.
Die Erfenisstigting het verlede week gasheer vir dr. David Katz asook ’n groot groep besoekers gespeel waar hy hulle toegespreek het oor ’n stukkie waarheid wat êrens wegkruip in al die geskiedskrywes oor dié legendariese generaal.
Tydens sy besoek aan die Voortrekkermonument, het dr. Katz meer lig op hierdie omstrede en indrukwekkende figuur gewerp waar hy oor sy nuwe boek General Jan Smuts and his First World War in Africa, 1914–1917 gesels het.
“Jan Smuts is iemand wat vandag nog baie polemiek veroorsaak. Aan die een kant was hy ’n fenomenale leier en aan die ander kant het skynbaar twyfelagtige besluite hom uiters ongewild gemaak,” sê Katz.
“Die belangrikste vraag wat mens egter moet vra, is: ‘Waarom is daar so groot skeiding tussen mense wanneer dit kom by Smuts?’”
Vir Katz is dié skeiding grotendeels ’n gevolg van ’n gebrek aan inligting.
“Ek het niks geweet van Jan Smuts nie,” skerts hy.
Deur die jare, soos hy meer begin oplees het oor Smuts, het hy meer geleer, en meer respek vir hom gekry.
Smuts het sy politieke loopbaan in 1898 as staatsprokureur en regsadviseur van die Uitvoerende Raad van die ZAR onder president Paul Kruger, begin.
Hy het die rang van generaal tydens die Anglo-Boereoorlog gehad en het onder generaal Koos de la Rey, wat ook sy militêre mentor was, geveg. Hy het ook later ’n deurslaggewende rol as woordvoerder vir die Republieke tydens die vredesonderhandelings met Brittanje aan die einde van die oorlog gespeel.
Smuts se omstredenheid onder Afrikaners volg op die manier waarop hy die stakings van 1913 en die rebellie van 1914 hanteer het. Lees ook: Voortrekkermonument inspireer Amerikaanse kunstenaar
Hy word veral verkwalik nadat Jopie Fourie ter dood veroordeel is en Smuts hom nie begenadig het nie. In 1942 is dit dan ook sy besluit om die interneringskampe te stig en die Ossewabrandwag (OB) as onwettige organisasie te verklaar.
Hierdie besluit het ’n baie sterk negatiewe invloed op sy openbare beeld onder Afrikanergeledere aangesien die OB se ledetal in 1942 op 350 000 gestaan het.
Buiten sy bydraes op militêre en politieke terreine, het hy ook wesenlike bydraes gelewer tot die areas van filosofie, plantkunde, medici en ingenieurswese.
Tussen 1915 en 1945 was daar 30 akademiese eregrade van universiteite van regoor die wêreld aan hom toegeken, onder andere Oxford, Johns Hopkins, Cambridge en Berkeley. Hy het ook as die kanselier van Cambridge Universiteit en van die Universiteit van Kaapstad gedien.
Verder het hy ook as rektor van St. Andrews Universiteit in Skotland gedien.
Die Erfenisstigting se bestuurder van Erfenisbewaring, Jaco Cilliers, het op sy beurt gesê dat hy dankbaar vir Katz se besoek aan die monument, nie net omdat hy self die geleentheid gekry het om meer te leer nie, maar omdat dié besoek hulle ook in staat gestel het om dié kennis later aan die publiek oor te dra.
“Ek hoop almal wat die praatjie bygewoon het, asook elke besoeker aan die stigting en ons nuwe 1942-uitstalling, kon met iets wegstap en ’n ander blik op daardie era van ons geskiedenis kry,” vertel hy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


