Die Voortrekkermonument-familie brei verder uit
Die troetelwerf het met n paar hoenders begin, maar nou is daar heelwat plaasdiere, soos dwergbokkies, makoue, kalkoene en twee klein speenvarkies te sien.
Oor die afgelope paar maande, het die Voortrekkermonument se Pionierswerf verskeie uitbreidings ondergaan. Een van die mees opwindende toevoegings tot die werf is die nuwe “troetelwerf”.
Dié werf het met ’n paar hoenders begin, maar nou is daar heelwat plaasdiere soos dwergbokkies, makoue, kalkoene en twee klein speenvarkies te sien.
Bestuurder van pionieraktiwiteite by die Vootrekkermonument, Esté Cilliers wil graag besoekers uitnooi om ’n draai by die pionierswerf te kom maak en bietjie meer te leer oor trekkerlewe, en dan natuurlik om te sien hoe dié plaasdiertjies versorg word.
“Ons was baie opgewonde om verlede week twee dwergbokkies, Dirkie en Basjan, by ons te kon verwelkom en ons sien baie uit om te sien hoe ons pionierswerf nog kan groei,” sê sy.
’n Plaaseienaar, Renier Roets, het die afgelope week óók drie pelikane, twee kalkoene én twee spekvet speenvarkies aan die monument geskenk.
Hy vertel dat dit ’n groot voorreg vir hom is om te kon bydra tot die monument en die “uitbreiding en beskerming van ons ryk kultuurerfenis, wat natuurlik boerdery insluit”.
“Dit doen my hart as ’n boer goed om te sien dat daar nog kinders is wat wel in ons geskiedenis, ons tradisies én die natuur belangstel,” gesels hy.
“Ek hoop die diere sal ’n groot opgewondheid onder kinders en grootmense skep en hulle inspireer om meer van die plaaslewe en natuurbewaring te leer.”

Die personeel van die Voortrekkermonument nooi die publiek uit om hulle te help om name vir die nuwe diere te kry.
“Ons hoenders, Gezina, Lenie en Chris-die-Haan de Wet was die eerste toevoeging tot die familie,” sê Cilliers.
“Later het ons besluit om ons twee dwergbokkies Dirkie en Basjan te doop, maar ons het ook besef ons wil graag hê die ondersteuners van die monument moet deel hê aan die pret.
“Ons het besluit om mense uit te nooi om ons te help om die nuwe diere – twee kalkoene (’n mannetjie en ’n wyfie), twee varkies (’n beer en ’n sog) en drie makoue (twee wyfies en ’n mannetjie) name te gee.”
LEES MEER: Toutrek klubkampioenskap lok land se bestes na Pretoria
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
