FAK onthou Paul Kruger met nasionale dag van herinnering
Verskeie FAK-kultuurnetwerke, het die ZAR-president vanjaar herdenk deur linte te hang en kransleggings te hou by sy standbeelde en verskeie plekke oor die land.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met die Krugergenootskap, het besluit om die lewe van ’n merkwaardige man te vier deur ’n nasionale dag van herinnering te hou.
Donderdag, 118 jaar gelede, op 14 Julie 1904, was die Afrikaners met hartseer oorval met die aankondiging van Paul Kruger se afsterwe.
Verskeie FAK-kultuurnetwerke, het die ZAR-president vanjaar herdenk deur linte te hang en kransleggings te hou by sy standbeelde en verskeie plekke oor die land.

Personeellede van die FAK, Voortrekkermonument en Erfenisstigting het vanjaar se vieringe vroeg afgeskop by die Voortrekkermonument waar ’n replika van die bekende Kerkplein-standbeeld op die monumentterrein pryk.
Hilde Kruger, wat die bemarking van dié organisasies behartig, het by die geleentheid verduidelik waarom dit vir haar belangrik is om dag te vier.
“Paul Kruger word deur baie mense gesien as die Vader of Oom van die Afrikaners.
“Sy nalatenskap is onmiskenbaar en die lesse wat mens by hom kan leer, is eindeloos en daarom is dit vir my belangrik dat ons sy lewe vier,” sê sy.
Die landswye gedenkdag het amptelik afgeskop met ’n kranslegging by die Heldeakker in Pretoria waar Paul Kruger en sy familielede begrawe is.
Hannes Noëth van die Krugergenootskap het tydens die besoek aan die Heldeakker, gesê die wêreld het soveel veranderinge sedert Kruger se afsterwe ondergaan, maar dat dít waarvoor Paul Kruger en die Afrikaners gestaan het, nog steeds hier is.

“In Paul Kruger het God die Afrikanervolk ’n ongelooflike gawe gegee en ons onthou hom vandag op die herdenking van sy sterfte en die nalatenskap wat hy gelos het.”
Daar is ook linte by die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein gehang.
Lees ook: FAK beloof om Paul Kruger standbeeld te bewaar
Die FAK se kultuurkoördineerder, Barry Müller sê dat die gedenkdag net weer ’n bewys is van ons voorouers se opofferings en die lesse wat ons uit ons ryk kultuurerfenis kan leer.
“Dit is ’n voorreg om ’n man te kan herdenk wat sulke diep voetspore op ons Afrikanerlandskap getrap het.

“Dit is van kardinale belang dat ons as Afrikaners diegene moet onthou wat voor ons gekom het en so ook uit hulle lewens, lesse moet leer tot die verbetering en bevordering van ons eie lewens en ons Afrikaner-identiteit, en ook dankbaarheid moet wys vir dit wat hulle vir ons gedoen het.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
