Gevierde komponis van Pretoria is vir twee Sama-toekennings benoem
Rekord het met Prinsloo oor sy liefde vir musiek, sy inspirasie agter sy werk asook oor wat die toekoms vir hom inhou, gesels.
’n Bekroonde komponis van Pretoria, Franco Prinsloo is vir vanjaar se Suid-Afrikaanse Musiektoekennings in twee kategorieë genomineer.
Prinsloo se album Kruis van Liefde is vir Duo of Groep van die jaar asook Beste klassieke/instrumentale album benoem.
Prinsloo is onlangs ook vir twee Naledi-teatertoekennings benoem vir beste klankbaan vir ’n teaterproduksie en beste klankontwerp vir ’n teaterproduksie vir sy werk in die teaterstuk, “Mr. President” wat in 2021 in die Staatsteater se planke in Pretoria gedraai het.
’n Paar jaar gelede het hy die Nedbank Kuns en Kultuurtrust-toekenning ingepalm.
Lees ook: Plaaslike viool-speler vir gesogte musiektoekenning genomineer
“Dit is ’n ongelooflike eer om as komponis en musikant in die bedryf erken te word,” sê Prinsloo.

In 2017, het die beroemde Britse sanggroep, The King’s Singers sy werk “Pula, Pula!” tydens hul SA-konsertreeks opgevoer.
Dieselfde werk is ook gekies deur New Music South Africa in 2018 as die amptelike SA keuse vir die International Federation of Contemporary Music se World Music Day wat in Talinn in Estland aangebied is.
Rekord het met Prinsloo oor sy liefde vir musiek, sy inspirasie agter sy werk asook oor wat die toekoms vir hom inhou, gesels.
Vertel ons meer oor Kruis van Liefde
Kruis van Liefde is die titel van my Paas-oratorium vir koor, orrel en perkussie, wat beskou was as die eerste grootskaalse oratorium in die Afrikaanse taal. Die libretto is geskryf deur beroemde digters, proff. Hans du Plessis en Bernard Odendaal. Dié skrywers het juis hierdie teks geskryf omdat daar betreklik min poësie oor die Paas-gebeure is en sodoende ’n bydrae kon maak tot hierdie genre.
Dit het net onder twee jaar geneem om die musiek te komponeer en toe ons uiteindelik gereed was om dit uit te voer, het die Covid-19-pandemie ons gekelder. Nietemin het die inspirerende sangers van my koor, die Vox Chamber Choir met baie deursettingsvermoë aangehou om aan die werk te slyp. Ons het uiteindelik die volle werk in Maart 2021 by die SAUK in Johannesburg opgeneem.

Wat is die inspirasie agter jou werk?
Die teks van Du Plessis en Odendaal was die vertrekpunt. Die gebeure rondom die kruisiging van Jesus word met ongelooflike deernis in hierdie tekste vertel en dit was vir my ’n ongelooflike voorreg om dit met soveel egtheid en dieselfde deernis te toonset. Die Paas-gebeure word in net onder ’n uur deur middel van koormusiek, orrelbegeleiding en slaginstrumente vertel. Vir my om hierdie musiek te kon komponeer, was een van die grootse voorregte in my lewe. Ek het ook die werk voorgelê aan die London College of Music en het onlangs ’n “Fellowship” in komposisie, met lof, van hierdie instansie ontvang.
Wat hou die toekoms vir Franco Prinsloo in?
Na die ongelooflike sukses van Kruis van Liefde, het ek besluit om nie net een oratorium te komponeer nie, maar ’n trilogie van oratoria. Ek het pas die nuwe oratorium, Lig van Waarheid wat oor die geboorte van Jesus Christus handel, gekomponeer. Ek het die teks van hierdie Kersfees-oratorium saamgestel uit vergete en betreklik onbekende verse uit die Koraalboek van 1953 asook die Halleluja-sangbundel van 1952. Die storie van die geboorte van Jesus word vertel deur koorsang, twee soliste in die rolle van Maria en die engel Gabriël, strykorkes, solo fagot, ’n celesta asook bykomende slagwerk.
Verder is ek besig om te werk aan ’n nuwe kunsliedsiklus vir die Neues Lied-fees in Kaapstad asook nuwe liedere vir die jaarlikse Woordfees in Stellenbosch. Ek het die klankbaan van die baie suksesvolle kykNET-dramareeks, Nêrens, Noord-Kaap gekomponeer en ek is nou besig met nóg ’n reeks vir Showmax.

Waar het jou liefde vir musiek begin?
My liefde vir musiek kom ’n lang pad en spruit vanuit my kinderdae. My ouers was baie ondersteunend oor my musiektalent en het my van ’n baie jong ouderdom blootgestel aan klassieke musiek. My ouma en ek het ’n baie spesiale band gehad. Sy was die orreliste in die kerk en ons het ure lank saam duette op die orrel gespeel. Ek is gelukkig dat ek baie goeie onderwysers en mentors in my lewe gehad het. Op universiteit het ek my liefde vir musiek voortgesit by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus se koor.
Kyk hier na Kruis van Liefde: https://www.youtube.com/watch?v=kZ2M75H4gMo
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
