Local newsNews

FAK en AfriForum loods opvolgprojekte by Heldeakker-begraafplaas

"Dit is uiteindelik niemand se plig om jou erfenis te bewaar en te beskerm behalwe jou eie nie.”

’n Klein groep vrywilligers het vroeg Saterdagoggend hul grawe en spitvurke opgetel en saam met die FAK se kultuurnetwerke die Heldeakker in Pretoria opgeknap.

Dié begraafplaas huisves grafte van groot name uit die land se geskiedenis, soos Paul Kruger en Eugène Marais en daarom wend die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gereelde pogings aan om hierdie historiese skat te bewaar en op te knap.

Quentin Meyer, ’n vrywilliger van die FAK se kultuurnetwerke in Pretoria, vertel dat dit belangrik is om ons land se geskiedkundige skatte te bewaar vir die nageslagte.

Meyer is ook voorsitter van AfriForum se Noord van die berg-tak.

“Ons is al vir baie jare hier by die Heldeakker betrokke,” sê hy.

“Ek dink dit is belangrik vir ’n gemeenskap om betrokke te raak by hierdie tipe projekte.

“Dit is uiteindelik niemand se plig om jou erfenis te bewaar en te beskerm behalwe jou eie nie.”

VRYWILLIGER AL VIR JARE BETROKKE

Meyer is al vir jare betrokke by die FAK en verskeie ander kultuurorganisasies en sê hy hoop hierdie projekte motiveer en inspireer ander om ook ’n verskil te maak in hul gemeenskappe.

Verlede naweek het ’n handjie vol vrywilligers van AfriForum, Sytze Wierda Voortrekkerkommando en die plaaslike gemeenskap saamgekom om dié skoonmaak-aksie te ondersteun.

FAK en AfriForum loods opvolgprojekte by Heldeakker-begraafplaas
Foto: Verskaf

Barry Müller, die FAK se kultuurkoördineerder in die Noordelike Provinsies, sê dit is vir hom ’n riem onder die hart om te sien hoe groot verskil ’n klein groep mense kan maak as hulle saamwerk.

AfriForum se Noord van die berg-tak het saam met die span gewerk.

Dié tak het hierdie keer meer op die areas rondom die grafte gefokus deur dit skoon te maak en die onkruid te verwyder wat oral opkom en groei.

BEGRAAFPLASE ‘N BRON VAN KOMMER VIR AFRIFORUM

Volgens ’n persverklaring, is die verval van begraafplase ’n bron van kommer vir AfriForum.

Die verklaring sê dit is algemeen bekend dat die verval van munisipaliteite landwyd meegebring het dat begraafplase nie meer skoongemaak en in stand gehou word nie.

Dit is ook in talle gevalle deesdae uiters gevaarlik vir mense om die grafte van hul geliefdes te besoek en self skoon te maak.

“Ek dink dit is belangrik vir ’n gemeenskap om betrokke te raak by hierdie tipe projekte aangesien dit die gemeenskap se plig is om hul eie en ander se erfenis te bewaar,” sê Meyer.

“Dit is belangrik om hierdie areas skoon en netjies te hou sodat ons geskiedenis behoue kan bly vir ons nageslagte. Geskiedenis is baie belangrik en speel ’n belangrike rol in ons lewe,” sê distrikkoördineerder Sampie Steinberg.

Lees meer: FAK onthou Paul Kruger met nasionale dag van herinnering

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button