Local newsNews

Vlindervoete wat oor jou hart wals

Musiek wat jou ontroer - Michelle Veenemans - veelsydige sangeres

Nie almal is vir die kollig bestem nie. Maar as jou ma ’n operasangeres is, is die genetika reeds daar – en die kanse groot dat jy in haar voetstappe sal volg.

Michelle Veenemans kan getuig dat haar ma Barbara al van meet af aan, musiek in haar lewe gewortel het.

Toe sy net 3-jaar oud was, het sy al saam met Rudi Neitz haar kunstenaarsdebuut gemaak. Sy het PJ Lemmer se Sproetenooi, ’n baie ingewikkelde lied, gesing. Dieselfde dag het sy saam met haar tannie, Leonore Veenemans, haar gewilde Liefste Madelein gesing.

“Ons is mekaar se grootste fans, ons vereer mekaar,” het Michele Veenemans oor die Veeneman Soprane gesê. Sy vertel dat sy die trotse titel van die Vierde Veenemans Sopraan dra.

Haar tannie, Leonore Veenemans, wat die ouer garde sal onthou vir die treffer Liefste Madelein, en haar ma Barbara Veenemans was die eerste twee Veenemans Soprane. Die derde was Bennie Veenemans, haar ma se broer, wat ‘n Seunsopraan was.

“Ek het grootgeword tussen al hierdie sangers.”

Op 15-jarige ouderdom het sy die kunstenaarswêreld weer betree en saam met haar ma professioneel begin sing. “Ons het orals gesing,” vertel sy.

Sy het verdere blootstelling aan die vermaaklikheidsbedryf gekry toe sy op die ouderdom van 16 jaar by die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (Truk) as kostuumkleder gewerk het.

Sy was 17 jaar oud toe sy aan ‘n sangkompetiesie, wat deur die Afrikaanse Kunsvereniging aangebied was, deel geneem het.

“Ek onthou nog hoe ek gedink het: As ek hier wen dan staan ek ’n kans om ’n erstige sanger te wees,” het sy gesê. Sy het met die louere weggestap en dit was vir haar ’n lewenswysing gewees.

“Ek wou ‘n popsanger word,” het sy gesê, maar haar Oupa Veenemans se Jazz invloed en haar ma se klassieke sang het haar anders laat besluit. Haar oupa het sy eie Jazz Swing Orkes gehad.

“Op 22 gaan ek Duitsland toe,” vertel sy verder. Sy het Klasieke Sanguitvoering aan die Ludwig von Beethoven Musikschule in Bonn, Duitsland vanaf 1993 tot 1995 bestudeer. Dit was onder leiding van Alfred Nobel se suster Anita Nobel.

Sy sit haar sangopleiding, na haar terugkeer na Suid-Afrika, by die destydse hoof van Truk Opera, George Kok, voort.

“Ek is seker die mees tegnies opgeleide klassieke sanger in Suid Afrika,” het sy gesê. Sy vertel dat sy vir 12 jaar lank elke Saterdag vir drie ure lank net aan sangtegniek saam met hom gewerk het. In totaal was mnr Kok vir 14 jaar lank by haar ontwikkeling, waarvan hy die laaste twee jaar as raadgewer en klankbord opgetree het, betrokke.

Behalwe vir George Kok was haar ma haar steunpilaar. “My ma het ‘n geweldige invloed op my lewe gehad,” het sy gesê.

Haar sangtalent strek ook wyer as net Konsert Opera. Sy het onder andere ’n Afrikaanse Album Lentelied wat Afrikaanse Kunsteliedere bevat, uitgegee. Sy neem ook ‘n Gewyde Musiek album met die naam van Musica Sacra op wat ‘n versameling Oratorio areas insluit. Haar liefde vir Jazz Big Band musiek, van haar oupa af, leef in haar album Wonderful World of Jazz voort.

“Opera is vir my die lekkerste genre, dit vereis stratosferiese hoë note.” Sy vertel verder dat dit ’n euforiese gevoel by haar aanwakker as sy op die verhoog haar hart en siel aan die gehoor ontbloot het.

“Die gehoor wag vir daardie hoë note,” het sy verduidelik. Maar dit is ook nie al waarvoor hulle wag nie. Michelle is al deur kritici as ‘n roekelose sangeres beskryf. Sy is nie bang om die volgende trappie (of noot) te bestyg nie.

Michelle gaan nog lank op ons toneel wees. Haar talent is iets waarop Pretorianers trots kan wees. Hou gerus dop waar sy volgende optree.

ALSO READ: Rekord Mamelodi 23 June 2023

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button