Local newsNews

Bobby Van Jaarsveld trap nuwe spore na ‘n stil beroepstyd

Eersdaags stel hy 'n nuwe liedjie vry, hy is weer te siene op 'n Pretoria-verhoog en dalk wink 'n toekenning vir 'n rol in 'n reeks! Bobby van Jaarsveld het 'n tweede asem gekry na talle jare in die vermaaklikheidsbedryf.

Vir ’n paar jaar het die eens prikkelprins van die Afrikaanse musiekverhoog, Bobby van Jaarsveld, van die toneel verdwyn.

Net geharde Afrikaanse feesgangers kon hom af en toe op feesverhoë beleef.

Eersdaags is die veelsydige sanger en akteur egter weer vir verskeie redes in die kollig.

Van Jaarsveld se nuwe liedjie “Toe, nou en altyd” is vanaf 28 Julie op stroomdienste beskikbaar.

Die liedjie se naam is heel gepas vir sy terugkeer.

Van Jaarsveld het sy loopbaan as sanger begin in 2006 toe hy die Huisgenoot Tempo-toekenning vir die beste nuweling gewen het.

In November 2006 het Theuns Jordaan Productions hom ’n opname-kontrak aangebied. Sy eerste album, ’n Duisend Ure, is later in die jaar vrygestel en het goue status bereik.

Van Jaarsveld is die eerste om te erken baie het sedert sy debuutjaar op die musiektoneel verander.

“Die landskap vir sangers het so verander, veral oor die wyse hoe ons nou liedjies kan uitbring op die musiekstroomdienste.”

Hy is effe nostalgies oor die dae wat jy nog ’n album kon uitbring waarop daar dalk twee treffers was.

“Nou moet jy ’n sterk en stewige liedjie met impak kan uitbring, alhoewel dit jou minder geld gaan inbring.”

Hy tree ook vir die eerste keer na vier jaar op 6 Augustus in die Atterbury-teater op.

“Dit bly een van my gunstelingverhoë en ek is dankbaar om weer by die teater te kan optree!”

Van Jaarsveld het ’n vonkel in sy oog oor al die vernuwing.

Hy moes weens sy gesondheid in 2018 ophou sing en het reeds sedert 2016 vier stembandoperasies ondergaan waartydens poliepe op sy stembande onder meer verwyder moes word.

Van Jaarsveld is boonop genomineer in die kategorie “Beste akteur in ’n drama” by die onlangse Silwerskermfees-toekennings vir Film en TV.

Die benoeming is vir die rol van Stefan in die reeks Spoorloos: Die Eiland waar hy in agt episodes verskyn het. Die reeks het verlede jaar in September klaar gemaak.

Hy speel die rol van ’n avontuurlike argitek wat ’n ou vlam toevallig ontmoet en dan in ’n intrige ingetrek word wanneer sy verdwyn.

Die wenners van die Silwerskermfees word op 26 Augustus aangekondig en die dag daarna word die toekennings op kykNET uitgesaai.

Nie te sleg vir iemand wat nog nooit enige formele filmopleiding gehad het nie. Behalwe vir ’n week of wat se leiding voor sy eerste film in 2010 by Brumilda van Rensburg.

“Dis my eerste benoeming vir ’n akteursrol. Ek het soveel mense om voor dankie te sê. Die Spoorloos-span was so groot gewees met soveel mense wat elke dag so hard gewerk het. Ek is dankbaar vir elkeen van hulle!”

Hy het die hoofskrywer, Christo Davids, en Francois Coetzee vir die besondere geleentheid bedank.

Alhoewel hy nog altyd ’n meer ernstige rol wou speel, is dit die eerste keer wat hy die geleentheid gebied is.

Nou verkies hy so ’n rol wat die teenoorgestelde van sy eie vrolike karakter en liefdevolle persoonlikheid is.

“Ek sal graag ’n werklike moeilike rol wil doen. ’n Rol oor iemand met ’n psigotiese persoonlikheid in ’n riller.”

Hy sal ook na Spoorloos: Die Eiland meer filmwerk wil aanvaar.

Van Jaarsveld het sy debuut op die silwerskerm gemaak in 2010 in die film Liefling asook in die 2013-film, As jy kan sing.

Hy het ook ’n klein rol in die kykNET-reeks Hotel gehad en in twee komediereekse op TV gespeel.

Die Spoorloos-rol het ’n paar deure vir hom oopgemaak, ook in die filmwêreld. Maar vir eers wil hy niks hieroor kwyt raak nie.

“Ek tree in talle vertonings vanjaar op. Ek wag maar en sien wat gebeur.”

Hy sê hy kyk sy drie kinders – Sion, Leben en Armani – soms so nadenkend aan en weet hy is nog ’n dag met hulle en sy vrou, Annatjie, gegun.

“God is my so genadig. Toe, nou en altyd.”

– “Toe, nou en altyd” is vanaf 28 Julie op al die platform beskikbaar. Volg die skakel: https://bobbyvanjaarsveld.lnk.to/ToeNouEnAltydMB

– Bobby van Jaarsveld en musikante is op 6 Augustus 15:00 in Atterbury-teater te sien. Kaartjies kos R250.

Veelsydige sanger en akteur oefen vir veeleisende rol in hotelkamer

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button