Moot-inwoner val in mangat toe plastiese deksel meegee
'n Vrou is ernstig beseer omdat die plastiese mangatdeksel van die veselinternetkabelmangat op 'n sypaadjie onder haar meegegee het. Vrae word nou gevra hoekom die mangatdeksels nie van meer duursame materiaal gemaak word nie.
Mangate is onder die soeklig nadat ’n persoonlike assistent van Waverley onlangs ernstige beserings opgedoen het nadat sy regdeur die plastiese mangatdeksel van ’n veselinternetkabelmangat in Crotsstraat getrap en kniediep in die mangat geval het.
Dié mangat is op die munisipale sypaadjie geleë.
Sy is vir ’n week van die werk afgeboek. ’n Vorige kniebesering het vererger toe die deksel meegegee het toe sy daarop getrap het. Haar ander been is ook ernstig gekneus.
Sy het aan Rekord gesê sy het wel ’n mediese fonds om vir die behandeling en voortgesette fisioterapie te help betaal.
Sy glo die mangatdeksels vir veselinternetkabels in die area is substandaard plastiek. Die deksels moet eerder van meer duursame materiaal gemaak word.
Die plasing van mangate word ook bevraagteken.
“Die veselinternetkabelmangate moet eerder geplaas word waar motors nie ry nie.”
Die voorval het voor die huis van Jan Gertenbach plaasgevind.
Hy voel die swak plastiese deksels op die sypaadjies hou ook ’n gevaar in vir drawwers en stappers.
“Die plastiese deksels word in stukke gebreek deur viertrekvoertuie wat daaroor ry. Dan is daar ’n gapende skag waarin mens kan val.”
Hy glo nie dis inwoners se verantwoordelikheid om gevaarlike toerusting op openbare eiendom in stand te hou nie.
Hy het ’n beroep op die stadsraad gedoen om toe te sien dat sulke internetkabel-mangate met sterker deksels toegerus word om soortgelyke ongelukke te voorkom.
Raadslid Frans Smith van wyk 52 sê daar is nog nie vantevore sulke gevalle by hom aangemeld nie.
“Daar is wel ’n toename in die aantal gesteelde yster- en staalmangatdeksels. Dit is ook die rede vir die gebruik van mangatdeksels van ander materiale.”
Hy sê met die oorspronklike inwerkingstelling van veselinternetkabels in die gebied het kontrakteurs wel toestemming verkry om ondergronds die kabels aan te bring, asook vir toegang daarnatoe by wyse van mangate op die sypaadjies.
Smith meld sover sy kennis strek is daar geen formele inspeksie van die stadsraad se kant na die voltooiing van sulke projekte nie.
“As raadslede kan ons nie spesifikasies rondom mangate afdwing nie al is dit op die sypaadjie. Dit is ’n tegniese aangeleentheid vir die stadsamptenare.”
Hy verduidelik kontrakteurs kan wel verantwoordelik gehou word om enige munisipale infrastruktuur beskadig in die installasieproses, te herstel.
Internetkabelroetes deur ’n area word vasgestel deur die Tshwane metro.
Die stadsraad se bepanningsafdeling kan genader word om uit te vind watter kontrakteur se internetkabelroete deur die buurt loop. Alle sulke roetes moet op planne aangedui en ingedien word by die stadsraad.
Die naam van sulke veselinternet-maatskappye word ook gewoonlik op mangatdeksels aangebring.
Navrae is aan die Tshwane metro gerig oor die stadsraadsbeleid vir die installering van internetkabels en aanspreeklikheid in die geval van ongelukke wat lei tot beserings.
By ter perse is geen inligting nog ontvang nie.
Vyf plaaslike skole voor in die koor by nasionale koorkompetisie
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
