Local newsNews

Liedjiesanger en eens kranige sportman kry toekenning as hoopdraers

'n Toekenning wat opgedra is aan mense met gestremdhede wat 'n inspirasie vir die gemeenskap is, is aan liedjieskrywer en sanger Prop en Edwin Nelson oorhandig.

Die Mathys Roets-toekenning van Hoop is tydens Solidariteit Helpende Hand se Afrison Liefde In Gestremdheid (LIG)-konsert by Sol-Tech se Monumentpark-kampus in Pretoria aan hulle oorhandig.

Dié toekenning word opgedra aan mense met gestremdhede wat ’n inspirasie vir die gemeenskap is.

Helpende Hand het die toekenning in 2022 na Roets vernoem toe hulle dit aan hom oorhandig het vir sy deursettingsvermoë.

Roets se motor het destyds op ’n grondpad naby Richmond in die Noord-Kaap gaan staan. Hy het manalleen die res van die pad in sy rolstoel aangedurf om by ’n vertoning uit te kom.

Prop, ’n argitek wat met semi-dwergisme leef, is veral vereer vir sy positiewe geaardheid.

“Dit is nie net ’n erkenning van my gestremdheid nie, maar van al die mense wat met gestremdhede leef,” het Prop oor sy toekenning gesê.

“Dit bring vir my rustigheid dat daar op ’n mooi manier erkenning gegee word aan mense wat anders is. Ons is nie spesiaal of vreemd nie, maar ons waardeer die erkenning dat ons elke dag moet leef in ’n wêreld wat nie by ons leefstyl aangepas is nie.”

Liedjiesanger en eens kranige sportman kry toekenning as hoopdraers
Sanger Mathys Roets (links) het die liedjieskrywer en sanger, Prop (regs), die afgelope naweek as hoopdraer vereer. FOTO: Verskaf.

’n Emosionele Nelson het by die geleentheid gesê hy het reeds op die ongelukstoneel waar sy lewe in ’n oogwink verander het, begin om die trauma te verwerk.

Hy was hy op 28 Mei van Potchefstroom na sy huis in Vaalpark op pad toe hy beheer oor sy voertuig verloor en teen versperrings langs die pad gebots het. Hy was vir twee uur in sy voertuig vasgekeer voor hulp opgedaag het.

“Die ondersteuning wat ek van geliefdes en vreemdelinge, selfs van oorsee, ontvang het, was en is steeds oorweldigend. Dit het my aangemoedig om op te staan en nie te bly lê nie. Ek wou so gou as moontlik weer mobiel raak, en ses weke ná my ongeluk het ek begin om prosteses te gebruik,” het hy gesê.

Nelson was ’n voormalige uitblinker sportman wat sy skool in rugby, tennis, gholf en krieket verteenwoordig het.

Hy het by die geleentheid besluit om sy toekenning van R10 000 aan Helpende Hand se studiefonds vir gestremde persone te skenk.

Afrison, die hoofborg van die konsert, het ook tydens die geleentheid ’n skenking aan Helpende Hand se LIG-studiefonds vir persone met gestremdhede gemaak.

Klubrugby legendes kuier saam by Katmuis se mylpaal verjaardag

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button