24 botteltjies koeldrank ‘n belangrike les vir oud-kampioen swaargewig bokser
Dié oud- swaargewig bokskampioen het vanaf agtjarige ouderdom menige van sy sport- en lewenslesse in en naby bokskryte in Pretoria geleer.
Wanneer die voormalige kampioen swaargewigbokser Pierre Coetzer terugdink aan sy kleintyd in Pretoria, deel hy gereeld belangrikste lewenslesse wat boks hom geleer het.
Veral ook die storie van sy pa, Chris, sy eerste SA-bokskampioenskappe en 24 botteltjies koeldrank.
Coetzer, ’n oud-leerling van Laerskool Bergsig en Hoërskool Hercules, het die verhaal vertel tydens die Centurion-bekendstelling van die boek, Luister – God se stem in my lewe deur Karien Basson en Tanya Powell.

Sy getuienisverhaal is daarin opgeneem.
“Toe ek die eerste keer na die SA-bokskampioenskappe op pad was, het al my maats uit Pretoria aansporings gekry. Dit was beloftes van groot geskenke soos motorfietse. My pa was tjoepstil.”
Die dag nadat hy van sy eerste oorwinning in die bokskampioenskappe teruggekeer het, het sy pa vir hom geld gegee om 24 botteltjies koeldrank te koop.
Hy moes die koeldrank by die skool vir sy maats gee.
“Hy het gesê dis omdat ek die titel gewen het. Net daar het ek geleer as jy besluit het om deel te neem, moet jy 100% gee, en nié omdat ’n wortel voor jou neus gehou word nie.”
Coetzer sê hy is op skool geboelie. Sy pa het hom aangeraai om “iets te begin doen om jouself te leer verdedig”.
Hy het eers karate probeer. Nadat sy broer, Natie, hom na hul plaaslike boksklub genooi het, het sy keuse op boks geval.
Op agtjarige ouderdom het hy die boksafrigter en polisieman, Daan Bekker, by die SAP Amateur Polisieklub ontmoet.

By hierdie klub se gebou, reg agter die destydse Pretoria-dieretuin, het hy sy lewensdroom gevind.
“My liefde vir sport en ambisie om daarin te presteer het as jong seun in Pretoria begin. Ek het vir oom Daan met ons ontmoeting vertel ek wil ’n Springbok word.”
Hierdie droom sou hy as 22-jarige bewaarheid toe hy in 1983 in sy debuut as professionele bokser saam met die Springbokspan na Suid-Amerika getoer het.
Hy kon egter nie die groen en goud baadjie dra nie as gevolg van sportsanksies teen Suid-Afrika.
“Ons het in ’n ander era geboks toe die sportwêreld nog erg polities was. Ek het so midde-in die protesgangers op my geloof staat gemaak en stilweg my gang gegaan.”
Coetzer onthou nostalgies hoe aandgebed en huisgodsdiens deel van sy streng, maar liefdevolle grootwordjare in Pretoria-Wes was.
Hierdie rituele glo hy het hom ook gehelp om vele ander dissiplines later in sy lewe te hou.
“As dit nie vir God was nie, het ek nie nou hier gesit nie. As ek in die bokskryt geklim het, het ek regtig begin bid. Tussen daai toue kan niemand anders jou help nie.”
Coetzer het as die “Leeuhart” onder boksers bekend gestaan as gevolg van sy legendariese fiksheid.

Hy het meer as 200 oorwinnings in amateur boks behaal.
Hy skryf sy fiksheid as sportman ook toe aan die jare toe hy as liggaamsopvoedingsinstrukteur aan die Suid-Afrikaanse Polisiekollege in Pretoria-Wes verbonde was.
“Dit was goeie jare gewees. As sportman kon jy nie vir beter of meer vra nie.”
Alhoewel hy nooit ’n wêreldtitel gewen het nie, sal talle Suid-Afrikaners sy twee legendariese gevegte in die swaargewig boksafdeling teen Bennie Knoetze in 1984 vir die nasionale titel en Johnny du Plooy in 1990 onthou.
Hy het ook met onderskeiding teen internasionale boksers soos Riddick Bowe, James Pritchard, Bigfoot Martin, J.B. Williamson, en Frank Bruno geveg.
“Die man met die ysterken”, soos wat hy bekend gestaan het, het in 1993 sy handskoene opgehang na sy laaste geveg teen George Foreman.
Hy het met ’n tegniese uitklophou in die agtste rondte verloor.
“Ek is dankbaar vir wat in my lewe gebeur het en dat ek gesond die sport kon verlaat. Ek sou dit nooit gemaak het as dit nie vir die Here was nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
