Meer byt as blaf aan klerereeks se Tannie Matie
Centurion-komediant en akteur Matie van Graan se rol in advertensies vir 'n klerereeks het ook ander deure vir haar oopgemaak.
Akteur, komediant en seremoniemeester Matie van Graan kom haastig in ’n stofwolk by die afspraak aan in ’n bakkie soos ’n boer wat vir ’n veiling arriveer.
Hoe dan nou anders?
Sy is immers vele Suid-Afrikaners se gunsteling “plattelandse tannie” danksy videos en funksies waarin sy spierpaleise en hul bene beoordeel.
Haar vrolike groen oë het ’n ondeunde vonkel. Sy raak onmiddellik ’n pittigheid of twee kwyt.
Sy ken duidelik die kuns om dubbelsinnige woordspelings in te span.
Maar moenie dat haar openbare beeld jou bluf nie.
Die ware Matie van Graan is geensins soos haar karakter in die videos en advertensies nie. Die rol van die vriendelike tannie met ’n oog vir ’n jongerige, goedbedeelde man, is bloot net ’n rol.
Eintlik verkies sy mans met “sagte betekenisvolle oë”.
Van Graan is ook ’n vaardige waarnemer en gekwalifiseerde natuurbewaarder met ’n kwalifikasie in Omgewingsbewaring.
Die vyftig-iets inwoner van Centurion het per ongeluk in die videos vir mans in knypklein kakiekleurige broekies en vrouens in vleiende minirokke beland.
Haar susterskind, Row-Lean, was in 2018 as model ingespan vir ’n klerereeks. Toe sy hoor die vervaardigers soek ’n ‘tannie’ vir die advertensies, het sy dadelik vir Matie aan die hand gedoen.
Nog ’n ‘tannie’ is bygevoeg, en so is die onnutsige tweeling van Suid-Afrika se sosiale media, Matie en Kotie, gebore. Die res is geskiedenis.
Die wegspringmusiekvideo “Wys jou vleis” met KleinJan, MooiJan en LangJan in die drieman knapie-sangtrio, het die land luidkeels aan die lag gekry.
Danksy haar meer as agt jaar in die veld as ekoloog-assistent, is sy gewoond om tussen mans te wees.
“Ek het in Limpopo onder andere wild uit ’n oopdeurhelikopter getel, gehelp met nagjag om oorbeweide veld te herstel en wildplase help beplan,” vertel sy.
Van Graan het ook vir sewe jaar diep spore getrap by die Departement van Landbou.
Daarna het sy ook leidende rolle as omgewingskundige gespeel by die Departement van Waterwese en in die mynboubedryf.
Wêreldsake het haar nog altyd geïnteresseer. Sy het in 2019 ’n weeklikse insetsel op ’n lokale radioprogram in Polokwane aangebied: “Polities Paraat met Matie”.
Eersdaags sal sy weer as kommentator op ’n radiostasie ingespan word.
Die oud-leerling van die Hoërskool Kempton Park, se tong-in-die kies manier van gesels steek egter haar diepe deernis soms weg.
“Enige vorm van mishandeling van diere, kinders of bejaardes, flip my boot.”
Sy is in Bellville in die Westelike Provinsie gebore. Haar gesin het na die noorde verhuis toe sy ses jaar oud was.
Alhoewel haar beeld in die advertensies en op sosiale media dié van ’n plattelander is, hou sy van die stad, en veral van Pretoria.
“Ek haat swak diens. Hier is mens naby elke hoofkantoor. Jy kan ’n probleem oplos deur sommer soontoe te ry.”
Om op die pad koers te hou, is egter nie juis een van haar sterk punte nie.
“Daarvoor gebruik ek eerder ’n slimfoon-toepassing en volg die stem oor die foon getrou. Ek vertrou daai vrou se stem meer as dié van my man of dominee.”
Op 27-jarige ouderdom het sy geweet wat sy in ’n eggenoot wil hê. Sy en Hendrik het toe hulle skapies in ’n kraal gejaag.
Hy is nonchalant wanneer sy as “Tannie Matie” deur aantreklike mans omring word.
“Hy weet mos mens word honger in die dorp, maar jy eet by die huis.”
Die karakterrol het vir Van Graan ander deure oopgemaak.
Sy is reeds te sien in vier kykNet films, ’n Netflix series en die EVOD/Amazon film Seconds wat hoog aangeskryf was by die gesaghebbende Cannes-filmfees.
Die veelsydige komediant is ook in drie TV-advertensies te sien as die vriendelike ouer tannie. Haar seremoniemeester-vaardighede is ook tans in groot aanvraag.
Sy wil binnekort haar openbare platform ten goede gebruik en vrouens bemagtig deur hul aan alles rondom hulle eie boedelbeplanning bloot te stel.
“Dis ons plig in Suid-Afrika om wat goed is, beter te maak.”
– Volg Tannie Matie op enige sosiale media platform by @matiestad
– Kliek hier vir haar mees onlangse video:
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
