Pretoria rugbyraai-span pypkan moeilike vrae
'n Gedugte span van Pretoria bestaande uit 'n regspraktisyn en verkoopskonsutant het hul spiere gebult in ’n rugbyraai-kompetisie op kykNET.
Twee rugby-foendies van Pretoria het in kykNET se rugbyspeletjiesprogram, Koppestamp, saam diep in die skrum gesak om ’n vasskop of twee rondom rugbykennis te maak en so punte aan te teken.
Die aanbieders, Adrian Steyn en Deoudoné van der Merwe, het die fluitjies geblaas in die naelbytstryd tussen hul Radio Rugby-span en die Stormlopers.
Radio Rugby se spanlede, ortopediese toerusting verkoopkonsultant Johan Pretorius van Garsfontein, en regspraktisyn Simon Riekert van Clubview, is egter gewoond om hulle aan ’n fluitjieblaser of twee te steur.
Hulle skuif gereeld saam voor die mikrofoon in om rugbykommentaar te lewer op streeks- sowel as nasionale vlak.
Pretorius is die anker-aanbieder en Riekert ontleed die spel op die veld.
Pretorius het self rugby gespeel vir Hoërskool Brits en streekspanne op skool gehaal. Hy was ook deel van Tukkies se o.20-Akademie-groep totdat ’n skouerbesering sy rugbyloopbaan kortgeknip het.
Hy het aktief by skoolspanne betrokke gebly en het in 2017 met die uitsaai van rugbywedstryde begin.
Riekert het tot diep in sy 30s aan rugby deelgeneem nadat hy die spel as kannetjie in die Laeveld leer speel het. Tydens sy hoërskooljare op Hoërskool Sybrand van Niekerk op Sabie het hy sy vaardighede as voorspeler geslyp. Op universiteit het hy dikwels as haker of flank op klubvlak uitgedraf.
Beide het hul rugbykennis oor die jare opgebou deur hul betrokkenheid by die spel, die oplees voor die tyd vir uitsaaibeurte en kontak met spelers en hul families.
Pretorius vertel hulle het besluit om in te skryf nadat ’n advertensie op sosiale media verskyn het.
“Ons het nie geweet wat om te verwag nie. Maar dis Wêreldbekerjaar en ons wou deel wees van die pret,” sê Pretorius.
Hy meen die wye verskeidenheid van vrae het hulle soms laat klei trap.
“’n Antwoord is dalk op die punt van jou tong, maar jy kry dit nie uit nie,” lag Pretorius.
Om voor die kameras te verskyn, was egter nie ’n uitdaging vir die twee nie aangesien hulle dikwels saam TV- sowel as radiokommentaar oor rugby doen.
Oor ’n paar dinge is die span dit eens: Dat die Rugby Wêreldbeker-eindstryd op Ellis Park in 1995 die een eindstryd is wat almal onthou. Beide glo ook suksesvolle klubrugbyligas, soos die Carltonbeker in Pretoria, is die behoud van rugby.
“Ek dink ons almal kyk dalk ’n video af en toe van die roemryke dag en onthou die detail asof dit gister was.”
Radio Rugby se spangees is ook duidelik as hulle oor skeidsregters se rol op die veld gesels, veral as omstrede beslissings gemaak word.
Pretorius glo net soos fouterende spelers na ’n wedstryd voor ’n paneel moet verskyn, moet soortgelyke panele skeidsregters aanspreeklik vir verkeerde beslissings hou.
Die tweemanskap is duidelik gewoond om soos ’n span saam te werk. Volgens Pretorius het hulle nie tydens die opname gestry nie, maar mekaar eerder aangevul.
Riekert glo sy natuurlike mededingendheid het hom op die program voortgestu.
“Ek hou daarvan om myself te meet aan die standaard rondom my en dan beter te presteer,” sê Riekert.
Die dag toe hy en Pretorius hul eerste kommersiële uitsending in Mbombela waargeneem het, het tot meer bloedsweet as die Koppestamp-programopname gelei.
Op dié geskiedkundige dag het die Springbokke teen die All Blacks gespeel.
“Om regstreeks uit te saai, laat die adrenalien vinnig vloei,” meen Riekert.
Hy het in ’n rugbyhuis grootgeword met ’n pa wat in die veertigerjare tydens Unierugby-wedstryde uitgedraf het. Hy noem hy het aan Vadersknie respek vir rugby en rugbykommentaar geleer.
“Met wedstryde sou ons by die eetkamertafel by die radio gaan sit. Hy sou ’n swart Croxley-hardebandboek uithaal. So met die drink van ’n bier, sou hy aantekeninge in kolomme maak. Soveel lynstane, soveel skrums. Ek sou my Oros-koeldrank drink, saamgesels en leer.”
Riekert vermoed met die radioluistersessies het hy ook die kuns geleer om ’n prentjie van ’n wedstryd in sy kop te laat afspeel, ’n noodsaaklikheid vir sy ontleding van die spel. “Dit is ’n mooi herinnering vir my.”
– Die program, Koppestamp, word Woensdagaande om 20:00 op kykNET uitgesaai.
LEES OOK: Vrouebeeld van ongesonge heldin by Voortrekkermonument onthul
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
