Local newsNews

Vrouebeeld van ongesonge heldin by Voortrekkermonument onthul

'n Dapper heldin se beeld is aan die begin van Augustus in die Trekroetetuin van die Voortrekkermonument onthul.

Met Vrouemaand in gedagte, is ’n eerste-van-sy-soort-vrouebeeld ter nagedagtenis aan die Voortrekker-heldin Grietjie Prinsloo in die Voortrekkermonument se Trekroetetuin onthul.

Barry Müller, FAK-kultuurkoördineerder, sê dit is vir die organisasie belangrik om geskiedkundige helde paslik te vereer.

“Die Historiese Trekroetetuin by die Voortrekkermonument vertel die verhaal van soveel Afrikaner-helde op wie se skouers ons toekoms gebou is. Dus om ’n jong heldin vir die eerste keer in die geskiedenis te kan vereer, is ’n groot voorreg,” sê hy.

Die Grietjie Prinsloo-beeld is die derde oorspronklike beeld wat deur die FAK laat ontwerp is vir die monument.

Barry Muller van FAK, beeldhouer Jaco van Niekerk en ontwerper Anneke Langner plaas die beeld van Grietjie Prinsloo in plek vir die onthulling in die eerste week van Vrouemaand. Foto: Verskaf

Tydens die bloeddorstige aanval op ’n Voortrekkerlaer langs die Bloukransrivier in 1838, het die 16-jarige Prinsloo 26 assegaaisteke opgedoen en dit merkwaardig oorleef.

Die beeldhouer, Jaco van Niekerk, sê hy is baie bly om deel te kon hê aan die besonderse projek.

“Om ’n splinternuwe beeld te ontwerp wat een van ons onbesonge heldinne verteenwoordig, is ongelooflik,” sê hy.

Die beeld is deur Anneke Langner, ’n kommunikasiebeampte van die Voortrekkermonument en FAK, ontwerp.

Langner sê dit is vir haar belangrik om Prinsloo se storie op hierdie manier te kon vertel.

“Dit is ’n groot eer om deel te kan wees van so ’n projek. Op ’n klein manier ploeg jy terug in die gemeenskap wat jou gemaak het en plant ’n saadjie van hoop vir dié wat na jou kom,” sê sy.

LEES MEER: Vreugde oor Wonderboom-waterval weer loop

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button