Local newsNews

Tweede vervangings-mangatdeksel lei amper ook tot besering

'n Veselinternetkabelmaatskappy het nodige herstelwerk aan 'n mangatdeksel gaan doen nadat 'n berig in Rekord hulle daartoe genoop het.

Die vervanging van ’n gebreekte mangatdeksel van ’n veselinternetkabelmangat in Crotsstraat in Rietfontein het volgens ’n huiseienaar in die straat weinig verligting gebring.

Inteendeel, Jan Gertenbach het soos ’n besoeker aan sy eiendom sowat twee weke gelede, amper self in die skag geval toe die nuwe deksel geskuif het.

Die veselinternetmaatskappy, MetroFibre Networx, het na navraag deur Rekord, die vervangingsmangat op die sypaadjie kom oopgrawe om die oorsaak te soek.

’n Nuwe skag is ingesit sodat die mangatdeksel nou behoorlik daarop pas en nie weer ’n besering veroorsaak nie.

Gertenbach sê hy is dankbaar Rekord het namens die Moot-inwoners die “netelige saak warm gehou in belang van die veiligheid van die inwoners”.

Rekord het onlangs berig oor die vorige voorval op die sypaadjie voor sy huis waartydens ’n besoeker ernstige beserings opgedoen het.

Sy het regdeur die plastiese mangatdeksel van die veselinternetkabelmangat getrap en kniediep in die mangat geval toe die deksel gebreek het.

Sy was vir ’n week van die werk afgeboek. ’n Vorige kniebesering het vererger toe die deksel meegegee het toe sy daarop getrap het.

Sy het op 11 Augustus aan Rekord gesê sy is positief en bly niks het gebreek nie.

“Iemand wie se bene nie sterk is nie, sou waarskynlik baie erger skade ervaar het.”

Na die verskyning van die eerste berig, het Gertenbach ’n onverwagse en onaangekondig besoek gehad van ’n span werkers van MetroFibre Networx.

Die gebreekte mangatdeksel is inderhaas vervang, maar het nie op die skagopening gepas nie.

Die deksel het ’n slot om te verhoed dat dit rondskuif. Na installasie is die slot egter nie gesluit nie.

Toe Gertenbach per ongeluk ná die installering daarop getrap het, het die deksel geskuif en het sy been amper in die skag beland.

Hy hou vol dis in belang van alle inwoners van die area waar die kabels aangebring is.

Skagte moet toegerus word met deksels wat aan munisipale standaarde voldoen en behoorlik gesluit kan word.

“Voetgangers en drawwers is potensiële slagoffers van hierdie mensgemaakte slagysters,” meen hy.

’n Woordvoerder van die maatskappy, Teresa Settas, sê al die maatskappy se mangate voldoen streng aan die vereistes soos deur Tshwane Metro gestel.

Settas beklemtoon MetroFibre Networx sal as ’n standaardpraktyk alle mangatdeksels sowel as sypaadjiegrensskaghouers sluit.

“Hierdie skagdeksel is beskadig deurdat voertuie herhaaldelik daaroor gery het,” bevestig sy.

Sy verduidelik dat die maatskappy so gou as moontlik enige fisiese skade aan die fisiese infrastruktuur in hul netwerk vervang.

Hulle het ook reeds ’n tweede keer ’n draai by Crotsstraat vir herstelwerk gaan maak het.

“Ons het ook addisionele versterking gegee aan die skag by wyse van ’n groter en dieper sement skagomhulsel wat toekomstige skade deur voertuie kan verhoed.”

Sy sê sulke aanpassings aan skagte om die strukturele integriteit te verskerp is alreeds deurlopend gemaak sedert nuwe netwerke gevestig is.

“Ons het nuwe maatreëls ingestel deur die hoogte van die mangatdeksel nou gelyk met die grond te stroomlyn. Dit word gedoen deur sement versterking rondom mangate in te bring.”

Settas nooi inwoners uit om skade aan infrastruktuur waar die maatskappy se netwerk geïnstalleer is, by info@metrofibre.co.za aan te meld.

Die Tshwane metro sê sy beleid vir veselinternetmangatdeksels het spesifieke voorskrifte.

In strate waar voetgangers stap moet die mangatdeksels van veselinternetkabelmangate voorsien wees van deksels volgens riglyne van die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde.

Die materiaal waarvan die deksels vervaardig moet wees, is ’n duursame materiaal, rekbare yster, ’n allooi van yster en koolstof wat eienskappe vergelykbaar met staal het.

Metro-woordvoerder, Selby Bokaba, sê goedkeuring is deur die metro verleen vir die installering van die Rietfontein- veselinternetkabels.

Hy het bevestig dat ’n Sertifikaat van Voltooiing na installering deur die kontrakteur, die ingenieur verantwoordelik vir die projek sowel as ’n beampte van die metro se streeksoperasies en koöperasie-afdeling uitgereik moet word.

LEES OOK: Messages of support flood in for Angie Oeh on Stage 4 cancer diagnosis

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Back to top button