Local newsNews

Kaptein Kurt Darren span die seile vir Afrikaans se grootste musiekfees

Sanger Kurt Darren is opgewonde oor die geruime tyd wat hy en sy vrou, Dunay en kinders nou reeds terug is in Pretoria, veral noudat al hul meubels en besittings na vyf jaar in stoorruimte als onder een dak is.

Met ’n nuwe enkelsnit wat aan die einde van Augustus vrygestel word en ’n optrede hierdie Saterdag op Loftus, voel sanger Kurt Darren die besluit om sowat vier jaar gelede saam met sy gesin van die Wes-Kaap terug na Pretoria te verhuis, was goed en reg.

Darren sê hulle het nou weer wortel geskiet in Pretoria na die verhuising.

Hy voel ook tuis in die Jakarandastad omdat hy Saterdag, 19 Augustus deel is van die grootste Afrikaanse musiekfees ooit op Loftus Versfeld.

Verder, na vyf jaar in stoorruimte in die Kaap, is al hul meubels en besittings nou ook weer onder een dak.

Hy glo hy gaan nog lekker glase wyn drink saam met vriende in die Kaap, maar “vir nou is ons bloed blou!”

Sy tyd in die Jakarandastad is egter steeds verdeel tussen toere en sy sakebelange.

Darren wat ook bekend is vir sy liedjie “Kaptein, span die seile” is betrokke by die reël van talle boottoere met vertonings deur Suid-Afrikaanse kunstenaars en bedryf ’n maatskappy Kurt Darren Super Events.

“Ek dink ek het die bosveld te veel gemis en toe besluit om terug te kom. Voeg hierby die vriende en familie, en dat baie van my gehore en optredes ook hier is,” sê die sanger wat bekend is vir veral sy danstreffers.

Darren sê dit is juis wat hy en sy mede-kunstenaars die naweek wil regkry: “Om die meer as 30 000 mense wat die Krone-konsert bywoon aan die dans en aan die sing te kry.”

Hy verduidelik dit is die grootste musiekproduksie in Suid-Afrika.

“Hierdie vertoning gaan die mense in Pretoria se hare wegblaas. Al die liedjies is spesiaal vir my,” lag Kurt by die vooruitsig om die skare vir drie ure op hul voete te hou.

Hy het vandeesweek saam met meer as 20 van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars gerepeteer.

“Dit was ’n belewenis. Repetisies is altyd vir my lekker.”

Hy was veral in sy noppies om van die vorige kunstenaars saam met wie hy in vorige Krone-konserte opgetree het soos Elizma Theron en Nicholis Louw te sien. Die eerste Krone-konsert is in 2013 in Grand West Casino in Kaapstad aangebied.

Van die ander kunstenaars in vanjaar se Krone-konsert, is: Appel, Barto, Bernice West, Brendan Peyper, Christia Visser, Dirk van der Westhuizen, Elandré, Elizma Theron, Eloff, Jan Jan Jan, Juan Boucher, Juanita du Plessis, Leah, Liezel Pieters, Nicholis Louw, Prop, Reën, Refentse, Ricus Nel, Snotkop om maar net ’n paar te noem.

Oor sy nuwe liedjie wil Darren nie veel sê nie, maar hy lag heerlik oor die tema.

“Sê maar net die tema draai daarrondom dat ons het gedink daar is nie meer kwaggas nie…”

ALSO READ: Tuks ranked among 200 most innovative universities in the world

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button