Local newsNews

TV-aanbieder help met fondsinsameling vir ‘Liefling van Loftus’ se mediese onkoste

Rian van Heerden gaan 'n verkenningsgesprek met oud-Sprinbok Derick Hougaardt op die verhoog voer om fondse in te samel vir Hougaard se mediese onkoste.

Die bekende radio- en TV-aanbieder en eienaar van Provoco TV-produksiemaatskappy, Rian van Heerden, bied eersdaags ’n fondsinsamelingsaand vir oud-Springbok Derick Hougaard aan.

Die fondse sal vir Hougaard se mediese onkoste en herstel gebruik word.

Hougaard was vanaf 10 Junie vir bykans twee weke in ’n koma in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria nadat respiratoriese longontsteking by hom gediagnoseer is.

Hy het sedert sy ontslag tuis aangesterk en behandeling ontvang om weer op sy voete te kom.

Hougaard en Van Heerden sal in gesprek tree op 22 Augustus om 19:00 by die Barnyard-teater in Menlyn en oorsigtelik na die oud-Springbook se lief en leed deur sy lewe kyk. Bywoning van die aand kos R250.

“Ek weet mense sê ja, net soveel teëspoed het my al getref, maar niemand hou vir my ’n fondsinsameling nie,” vertel Van Heerden.

“Sulke mense besef nie hoe erg dit is as al die hartseer en tragedies met jou in die openbare oog gebeur nie. Hierdie blootstelling maak dit veel erger.”

Van Heerden sê Hougaard het sy huwelik, sy kinders, sy loopbaan, sy inkomste en nou ook sy gesondheid verloor.

“Die vraag is hoe gaan jy nou aan as dit als met jou gebeur het? Dit is ook wat ons gaan bespreek. Hierdie gesprek is deel van sy genesingsproses.”

Hy verduidelik dat hy en Hougaard reeds lankal ’n pad loop sedert hy hom die eerste keer die titel van die ‘Liefling van Loftus’ gegee het.

“Ons het verlede jaar al begin om ’n dokumentêre film oor sy lewe te maak. Ons aanslag was ons weet almal Derick is in ’n groef. Wat kan ons doen om hom weer op die regte spoor te bring?

“Toe kry hy hierdie gesondheidsterugslag. Die vraag is hoe eindig die storie?”

Van die beeldmateriaal van die fondsinsamelingsaand sal by die dokumentêre film ingesluit word.

Van Heerden sê die film kan dalk al in Oktober op kykNET uitgesaai word.

Die bestuurder van die Barnyard-teater, Dewald Wessels, sê die Barnyard-teater is ’n gemeenskapsplatform wat daaraan glo om plaaslike kunstenaars en spesiale gemeenskapskwessies te bevorder.

“Ons is deel van die Pretoria-gemeenskap en glo ons gehore is deel van ons familie. Aangeleenthede soos Derick Hougaard lê ons naby aan die hart want hy is ’n plaaslike legende.”

Hougaard het vandeesweek in ’n onderhoud op JacarandaFM gesê die pad na herstel is moeilik en uitgerek.

Hy het ook erken hy besef nou wat die koma en die herstelproses se gevolge op sy kinders, familie, vriende en lewensmaat, Nadine, was.

Hy het in die onderhoud gesê: “Ek dink dit was eintlik erger vir hulle as vir my.”

Hougaard het vir meer as 100 wedstryde vir die Blou Bulle uitgedraf en agt toetse vir die Springbokke gespeel.

ALSO READ: Rekord Mamelodi 18 August 2023

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button