Local newsNews

Mej SA 2023 glo ‘aanhouer wen’ maak drome waar

“Die beoordelaars soek ‘n afgeronde wenner. Vanjaar kon ek hieraan voldoen.”

Natasha Joubert (25) het nog altyd daarvan gedroom om Mej. SA te word.

Toe die gesogte nuwe kroon op 13 Augustus op haar kop geplaas is, was die oomblik egter te groot vir hierdie oud-leerder van Laerskool Bakenkop en Hoërskool Eldoraigne in Centurion.

Sy het haar hand telkens van verbasing oor haar mond geplaas. “Dit was so ’n buite-die-liggaam-oomblik.”

Om die kroon te dra, was haar droom as dogtertjie.

Toe sy egter haar eerste skoonheidskompetisie op 11-jarige ouderdom verloor, het sy nie gedink sy staan ooit ’n kans nie.

Haar ma, Ninette, het egter moed gehou en haar ingeskryf by ’n modelskool.

“Sy het geglo ek het potensiaal,” sê Natasha.

Sy het hieraan gedink toe sy die wense van huidige wenners van Laerskool Bakenkop se skoonheidskompetisies ontvang het.

Die senior wenner, Luané Beukes, het haar toegewens: “Geniet jou jaar en hou aan droom.”

Nog ’n senior wenner, Martin van der Merwe, sê: “Mag hierdie jaar ’n onvergeetlike ervaring wees.”

Na die verloorslag sou sy vele titels agter haar naam skryf, soos Mej. Junior Tiener Suid-Afrika, maar nie die gesogte een waaroor sy gedroom het nie.

Natasha Joubert en haar kêrel, Enricko Vermaak, sal in September al sewe jaar uitgaan. Foto: Enricko
Vermaak/Instagram

Sy het bykans weer moed verloor toe sy in 2020 die naaswenner in die Mej. SA-wedstryd was.

Sy erken sy het daarna probleme met haar geestesgesondheid ontwikkel en aan depressie gely.

“Ek het in die twee jaar besef hoe naïef ek eintlik was om te dink ek kon wel met my eerste probeerslag wen. Ek het inderwaarheid nie ’n vae benul gehad oor wat mens nodig het om die kroon te dra nie.”

In die drie jaar sedert haar vorige probeerslag, het die 1.7m lange Natasha op ’n gereelde basis ’n sielkundige besoek en leiding gekry by ’n lewensafrigter.

“Geen modelskool kan jou waarlik voorberei vir Mej. SA nie. Hulle kan jou hoogstens help om reg op die verhoog te loop. Vanjaar het ek met ’n voorneme op die verhoog gestap dat ek nie links of regs na die ander deelnemers gaan kyk nie. Ek gaan net myself wees en my met niemand vergelyk nie.”

In 2020 het sy nog nie hierdie ingesteldheid gehad nie. Sy glo die nuwe lewenshouding het veel bygedra om haar die wenkroon te laat dra.

“’n Mens moet besef en erken waarvoor jy staan en watter vrae om jouself af te vra. Vir my was dit om my lewensdoel te ontdek.”

Sy meen ook jou definisie van vrouwees moet in jou kop uitgemaak wees.

“Ek het met my selfondersoektyd ook besluit watter soort vrou ek is en wil wees. Dis belangrik.”

Die realiteitsprogram Crown Chasers, waarin sy dikwels moeilike situasies moes hanteer, het haar ook vir haar kroningsaand voorberei.

“Die beoordelaars soek ’n afgeronde wenner. Vanjaar kon ek hieraan voldoen.”

Mej SA 2023, Natasha Joubert, glo haar persoonlike groei wat sy ervaar het in die drie jaar tussen haar eerste probeerslag om die kroon te wen in 2020 en vanjaar,was die bepalende faktor. Foto: Jolanda van der Stoep

Sy vind die persepsies rondom kompetisies soos Mej. SA is dikwels skeefgetrek.

“Dit gaan nie net oor die geld en die pryse nie, maar sny veel dieper. Jy moet jouself veral goed kan uitdruk. Indien jy ’n plan kan oordra oor wat jy wil bereik in jou lewe en in jou wenjaar, het jy ’n beter kans.”

Vir Natasha is dit ’n groot voorreg om binne ’n kort afstand van haar ma in Centurion te besit. Sy is familievas en sien uit om na al die opwinding, op ’n Sondag met al haar familielede om ’n lang tafel te kuier.

“Ek wil veral vir my oupa als van die groot aand vertel,” lag sy.

Aan haar sy vir meer as ses jaar is haar hoërskoolliefde, kêrel en grootste bewonderaar, Enricko Vermaak.

“Ek het baie aanmoediging soos syne nodig gehad. Ek het besluit ek sal weer inskryf wanneer ek myself waarlik ken en dit was vanjaar,” sê sy.

Sy wil haar platform gebruik om opvoeding te bevorder.

“Ek wil fokus om groot organisasies te nader om meer beurse toe te ken. Ek weet van my dae op City Campus hoe moeilik studente befondsing bekom.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button