Gemeenskap werk saam om swembad reg te kry vir die somer
'n Opknappingsprojek by die swembad in Villieria gaan seker maak dat die 50m- gemeenskapsbate veilig sal wees vir swemmers in die somer.
Swemafrigters, swemskole, gala-swemmers, piekniekgangers en oopwaterswemmers sal almal baat by ’n gemeenskapsprojek wat met ’n terloopse opmerking in ’n supermark-ry momentum gekry het.
Bekende mosaïekkunstenaar, swemafrigter en oopwaterswemmer, Duane Seymore, het die hekkassiere, Miriam Montawu, van die munisipale swembad in 31e Straat in Villieria, in dié winkel raakgeloop.
Seymore swem en oefen al jare by die Tjaart van Vuuren-swembad. Hy het by Montawu verneem wanneer die 50m-swembad vir die somer oopgestel gaan word.
“Sy het my vertel van ’n vergadering tussen belangstellendes soos lidmate van die plaaslike Doxa Deo-kerk, die Vriende van die Swembad-groep en die eienaar van die Tinco Watersportsentrum, Ida van Wyk. Hulle wou saamspan om die swembad se gebreekte teëls te vervang onder die wakende oog van swembad-superintendent, Christopher Zungu.”
Seymore het die vergadering bygewoon. Hy was gemotiveer om sy kennis oor teëls en kontakte in te span om te help.
Hy het na hul bespreking vier kartonbokse vol teëls, sowel as gereedskap om daarmee te werk, gaan koop.

Seymore het daarna saam met die swembad-superintendent en vrywilligers aan die werk gespring.
Verskeie gebreekte teëls op die bodem en langs die kante moes uitgekap en vervang word.
Op sommige plekke weer het die teëls losgekom en was hulle reeds verwyder. Hierdie teëls is ook vervang.
Nog ’n gemeenskapslid, Dirk Jordaan, het ingespring om te sorg vir die teëlsement en het ook kom hand bysit.
Seymore sê die algemene gees in die Moot met sy talle verbeteringprojekte, is vir hom aansteeklik.
“My ma praat maklik die skrywer Engela van Rooyen hier van die Moot na. Sy herinner ons aan haar woorde: ‘Die beste hulp wat jy kan gee, sit aan die einde van jou twee arms’.”
Die swembad word deur swemmers van alle ouderdomme in die gemeenskap gebruik.
Die geriewe op die groot terrein met sy talle koeltebome is ook ’n spil waarrondom naweekontspanning in die buurt draai.
Die gronde is groot genoeg om ook plek te bied vir familiepieknieks.
Zungu, wat ook ’n lewensredder is, bestuur al vier jaar die swembad wat aan Tshwane metro behoort.
Hy is verheug oor die hulp uit die gemeenskap.
Zungu sê soveel as 500 mense gebruik oor ’n naweek die swembad in die somer.
Hy was veral bang die gebreekte teëls op die swembadbodem kan swemmers se voete sny.
“Ek en Miriam het besluit om eie inisiatief te neem toe ons hoor daar is nie geld beskikbaar nie. Ons wil hê besoekers moet ’n goeie en veilige ervaring hier geniet.”

In die week gebruik meesal oopwaterswemmers die swembad om fiks te word en stamina op te bou.
Uithou-swemmers aan die oefen vir kompetisies, soos Ysterman, berei hulle ook voor by die swembad.
Skole in die omgewing bied skoolgalas by die geriewe aan.
“Die toestand van die swembad bekommer ons nou al ’n goeie twee jare. Die munisipaliteit kon egter nog nie fondse allokeer en uitbetaal vir die opknapping nie. Ek en Miriam het besluit om die gemeenskap te nader vir skenkings en almal was gewillig om te help,” sê Zungu.
Hy glo die opknapwerk sal voor 1 September voltooi wees.
“Ek sien uit om swemmers en piekniekgangers by ’n vol en skoon swembad te verwelkom.”
Van Wyk sien uit om die verbeterde swembad te gebruik vir haar swemskool se lesse.
Sy gee al jare daagliks klas aan meer as 25 talentvolle swemmers by dié geriewe.
“Die swembad is ’n juweel omdat dit een van die min 50m-swembadgeriewe in Pretoria is.”
Van Wyk sê talle informele galas word daar aangebied. Haar swemskool gebruik dit veral vir voorbereiding vir galas.
“Die swembad self is werklik jare laas onderhou. Die gemeenskap het al self ook ingespring met die opknapping van die terrein en Afrit se span het kom grassny.”
Sy dra self by deur gas te koop vir die masjiene waarmee die swembadskoonmaaktoerusting werk.
“Dit is regtig ongelooflik hoe die gemeenskap saamstaan om die swembad vir almal se gebruik reg te kry. Ek waardeer dit werklik diep uit my hart.”
Garsfontein klop Helpmekaar, dring deur na Noordvaal Cup eindstryd
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
